Iets wat vandag vir ons absoluut alledaags is, het in 1981 soos ʼn toekomsdroom geklink.
Dié nuusuitsending verduidelik hoe jy met ʼn telefoonlyn aan ʼn ander rekenaar kan verbind om uiteindelik ʼn hele koerant op jou rekenaar te kan lees.
Deesdae verbind ons daagliks met ons slimfone, tabletrekenaars, skootrekenaars en persoonlike rekenaars aan die internet, sonder om twee keer daaraan te dink.
Die uitsending handel spesifiek oor agt koerante in San Francisco in die VSA wat hul artikels (slegs die teksweergawe) aanlyn begin publiseer. In 1981 het slegs tussen 2 000 en 3 000 persone in San Francisco persoonlike rekenaars by die huis gehad en ongeveer 500 persone het reageer op ʼn advertensie in die koerant om hul nuus aanlyn te kan lees.
Dit het sowat twee ure geduur om die hele teksweergawe van die koerant af te laai en die uurlikse tarief vir internetgebruik was in daardie stadium $5.