Video: Pa se 007-toespraak vir dogter se troue

Skermgreep uit die video

Dit was ʼn mengsel van feëverhaal en trefferfliek.

Laura en Lewis Finnie het hul troue beplan om so mooi en lekker as moontlik te wees in September 2019 by die luukse Newton Hall in Northumberland en Engeland waar hulle trou aan mekaar beloof het.

Laura se pa het egter ʼn ander idee gehad. Met 007, avontuur en selfs valskermspring in gedagte, het Steven Stipetic die perfekte resep gehad om seker te maak een spesiale gas kan sy dogter se groot dag bywoon. Sy plan was só streng vertroulik, selfs sy vrou Karen het nie ʼn idee gehad dat hy iets in die mou voer nie.

Laura en Lewis van Gateshead was ses jaar lank in ʼn verhouding voor hulle besluit het om te trou. Steven het in daardie stadium gesê hy het dadelik geweet hy moet “groot gaan” vir sy dogter se troue.

Die spesiale gas, Loopy-Lou, ʼn lappop, was ʼn groot deel van Laura se lewe al vandat sy ʼn klein dogtertjie was. Die pop moes selfs ʼn paar haaroorplantings ondergaan van al die gespeel.

“Sowat ʼn jaar voor die troue, toe Lewis my dogter se hand gevra het, het ek besef ek gaan ʼn toespraak moet maak as pa-van-die-bruid,” het Steven, in daardie stadium 53 jaar oud, gesê. En sy plan het gestalte begin kry.

Op die dag van die troue, in Julie 2019, het Steven met sy toespraak begin en verwys na die “baie spesiale persoon” in Laura se lewe. Laura het dadelik geweet hy verwys na Loopy-Lou en sy was verbaas dat die pop by die onthaal is. Steven het dit egter laat blyk dat hy die pop vergeet het en die seremoniemeester gevra om solank die gaste besig te hou terwyl hy gou uitglip. ʼn Video – byna soortgelyk aan ʼn aksiefliek – begin dan op die skerms in die saal te vertoon.

Die aksie begin waar Steven in sy blou pak wegjaag in ʼn Aston Martin en dan in ʼn hoëspoedjaagtog agternagesit word deur die polisie. Daarna hou hy by Laura se huis stil om die lappop te kry voor hy met ʼn bende baklei. In die slottoneel spring hy uit ʼn vliegtuig met Loopy-Lou veilig aan sy lyf vasgemaak voor hy weer by die saal land.

Steven het seker gemaak dat die bruidegom ʼn paar maande voor die tyd reeds die pakke kies en hy het met ʼn vriend, Adam Bouabda van Couch Potato Films, gesels en sy plan met hom gedeel. “Ek wou iets soos Mission Impossible of James Bond hê om die pop by die troue uit te kry,” het Steven verduidelik. En van daar het die twee verder planne beraam.

Steven het net buite die saal gestaan terwyl die video in die saal gespeel het. “Ek het om die hoek gestaan en toe die video begin speel, het ek gedink: ‘Steven, wat het jy gedoen?!’ Maar toe almal begin lag, was ek baie dankbaar. Laura was dol daaroor en dit is al wat saak maak. Dit was baie spesiaal.”

Die grappige video het in 2019 groot opslae tot in die VSA gemaak, maar dit is onlangs weer op sosiale media gedeel en word nou wyd versprei.

Steven sê so lank as wat dit mense laat glimlag, was dit alles die moeite werd.

Laura en Lewis is gelukkig getroud en het in Augustus verlede jaar ʼn seuntjie ryker geword.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Johan ·

Dis baie goed gedoen. Dalk selfs oorspronklik. Maar regtig meneer, dis nie jóú dag nie. Dit was nou die één dag wat aan jou dogter hoort. Kon jy nie maar eerder die aandag op haar en haar bruidegom plaas nie. Ek vra maar net.

Pandora ·

Ek was gelukkig om reeds in 2020 op hierdie video af te kom. Dit was so genotvol – mens kon werklik sien pa en dogter het hegte band. Wel gedaan Steven.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.