Video: Paartjie vaar in yslike kastrol na hul troue

ʼn Paartjie van Indië het Maandag deur oorstroomde strate in ʼn yslike kastrol gery om by hul troue uit te kom. Swaar reën het vloede in Kerala veroorsaak.

Die paartjie het die kastrol by ʼn plaaslike tempel geleen en twee mans gevra om die “boot” te stoot. Beeldmateriaal van die voorval het opslae gemaak op sosiale media.

“Dit het ʼn troue geword wat ons onsself nooit sou kon indink nie,” het die bruid ná die troue aan die plaaslike mediakanaal Asianet gesê.

Oorstromings en modderstortings het reeds minstens 27 mense se lewens geëis in die staat.

Alhoewel die onthaalsaal ook gedeeltelik oorstroom is, was die twee vasbeslote om tydens ʼn klein seremonie aan mekaar trou te beloof.

“Ons moes ʼn boot bespreek het in plaas van ʼn motor,” sê ʼn man in die video.

Volgens mediaberigte is die man en vrou albei gesondheidsorgwerkers.

Foto’s wys hoe motors en busse onder water staan weens die erge vloede die afgelope vier dae. Reddingsbeamptes was Maandag op soek na oorlewendes. Die weermag, vloot en lugmag bied bystand wat noodverligting en reddingsoperasies betref. Die regering het gesê hy het reeds duisende mense ontruim en meer as 100 noodverligtingskampe opgerig. Byna 500 mense het in 2018 tydens vloede in Kerala gesterf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.