Video: Politici ondersteun onwetend valse kinders-met-gewere-program

Skermgreep uit die video

Die Britse komediant Sacha Baron Cohen se nuwe program, “Who is America”, wys hoe Amerikaanse Republikeinse kongreslede vermoedelik om die bos gelei word om ʼn valse program, “Kinder Guardians” te ondersteun wat ten doel het om skoliere te bewapen.

Die komediant het in die laat 1990’s en vroeë 2000’s bekendheid verwerf met sy karakter “Ali G”. Dit is sy eerste televisieprogram in ʼn dekade.

Cohen doen homself voor as ʼn anti-terreurkenner, Erran Morad, van Israel (“I am the terrorist terminator”) en hy is swaar gegrimeer en die persone met wie hy ʼn onderhoud voer, herken hom nie.

Die eerste episode van “Who is America?” is op 15 Julie vrygestel en nog ses episodes sal weekliks volg.

Die karakter Morad haal eers Philip Van Cleave, leier van die Virginia Citizens Defence League, oor om hom te help om ʼn video vir kinders te maak hoe om ʼn vuurwapen te gebruik. Van Cleave wys in die video hoe kinders “Gunimals” kan gebruik soos “Puppy Pistol” en die “Uzi-corn”. Hy sing ook ʼn kinderliedjie en maan kinders om te mik vir “Head, shoulders, not the toes, not the toes”.

Van Cleave het intussen aangevoer hy was bewus daarvan dat dit ʼn foefie is.

Morad gesels daarna met Larry Pratt, emeritus uitvoerende direkteur van Gun Owners of America, wat entoesiasties sy boodskap deel dat dit belangrik is om onderwysers en kinders – selfs so jonk as vier jaar oud – te bewapen. “Die enigste ding wat ʼn slegte man met ʼn geweer kan keer, is ʼn goeie seun met ʼn geweer,” sê Morad. Pratt antwoord hierop: “Selfs ʼn goeie kleuter.”

Morad probeer ook politici in Washington DC oorhaal om sy “program” te ondersteun. Hy is egter onsuksesvol en Florida-kongreslid Matt Gaetz vra hom ongelowig: “Wil jy regtig hê ek moet op televisie sê dat ek die idee ondersteun dat driejariges en vierjariges bewapen moet word? Is dit wat jy wil hê?”

Daar is wel ʼn paar kongreslede wat lyk of hulle tog deur die foefie mislei is en met Morad saamstem oor die idee dat kleuters bewapen moet word. Verskeie van die kongreslede het intussen aangedui dat hulle om die bos gelei is en dat politici, net soos enigiemand anders, deur ʼn grapjas geteiken kan word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Dina ·

NÉE NÉE NÉE NÉE Hoe stupid kan mense wees! Here, red ons wereld van ondergang.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.