Deur Phillip Bruwer
Vier bekroonde Suid-Afrikaanse pianiste laat die monde oophang in ʼn video wat opnuut op sosiale media die ronde doen waar hulle gesamentlik die klawers tokkel.
Charl Du Plessis, ʼn klassieke pianis wat dié merkwaardige verwerking saamgestel het uit die werke van die Franse komponis Albert Lavignac se galopmars, het Saterdag aan Maroela Media gesê hy was verbaas toe hy sien die video is so gewild.
“Die video is al in Februarie geneem toe ons nog geoefen het. Ek was nie eens bewus dit word geneem nie,” het hy gesê.
Hy het gesê hy is deur die Oude Libertas in Stellenbosch gevra om ʼn projek aan te pak om dié nostalgiese teater se 40ste verjaardag te vier, asook hul peperduur Steinway-vleuelklavier se 40ste jaar in te wei.
“Ek het gedink aan ʼn konsep waar ons vier klassieke pianiste kan kry wat 40 vingers verteenwoordig om die 40ste mylpale te beklemtoon. En dit is hoe ons produksie, 40 Fingers, ontstaan het.”
Du Plessis, ʼn Pretorianer, het die Kapenaars Albie van Schalkwyk, Elna van der Merwe en Pieter Grobler ingespan om saam met hom agter die klawers in te skuif; die eerste keer wat dié vier saam speel.
“Ons het eers die stuk op ons eie geoefen voor ons dit saam aangepak het. Dit het sowat ʼn week se oefening geneem om dinge reg te kry, maar dit het nogal heel vinnig saamgeval aangesien my kollegas almal baie ervare pianiste is,” het hy gesê.
In die video kan ʼn mens sien hoe die pianiste in die melodiese harwar beurte maak om die musiekblad te blaai. Du Plessis en Grobler maak selfs ook ʼn tydjie om ʼn “selfie” te neem.
“Die stuk is so verwerk dat ons almal ʼn tydjie op die klawers kry, terwyl ons pret het. Die grootste uitdaging was maar om spasie vir 40 vingers op die 88 vleuels te vind. Daar bly maar ʼn elmbooggeveg soos aan ʼn etenstafel,” het hy geskerts.
40 Fingers was onlangs by Aardklop in Potchefstroom op die planke en is 22 November terug by die Oude Kraal-teater op openbare aanvraag. Op 22 Desember kuier die pianiste by Fancourt in George en as alles volgens plan verloop, pak die vier volgende jaar ʼn landwye toer aan.
Pragtige musiek julle 4 het n wenner daar beet!!
Maak nog sulke mooi musiek!
dit het ek nou sommer baie geniet!!!
Lekker lekker x4 !
Beste 4 x 4 wanneer mens kan luister. Talentvol en dit wil gedoen wees. Die ouer mense se woorde ” doet so voort “
Pragtig. Eerder ‘n opskrif met ‘klaVIER’.
Kyk na ‘klasieke’ moet wees ‘klassieke’ (2e par.) en ‘elbooggeveg’ is eerder ‘elmbooggeveg’ (2e laaste par.)
Dagsê Houtoog,
Dankie vir jou kommentaar. Ons vra om verskoning vir die oorsig, die berig is reeds gewysig.
Groetnis
Landi nms Maroela Media