Video: SA se grootste mannekyn-uitdaging op Kampsbaai

Skermgreep uit Calvin Munhuweyi en Instagram South Africa se mannekyn-uitdaging op Kampsbaai

Skermgreep uit Calvin Munhuweyi en Instagram South Africa se mannekyn-uitdaging op Kampsbaai

Sosialemediagebruikers is gaande oor ʼn mannekyn-uitdaging wat Sondag op Kampsbaai in Kaapstad met behulp van meer as 200 persone verfilm is.

Die “mannekyn-uitdaging” is ʼn video wat verfilm word van persone wat hul lywe só stil hou sodat dit lyk asof hulle mannekyne in winkelvensters is waaraan klere hang. Die video’s word dan met die hutssleutel #MannequinChallenge op sosialemediaplatforms soos Twitter of Instagram gedeel.

Volgens die webwerf Know Your Meme het leerlinge van Edward H. White High School in Jacksonville, Florida, die eerste mannekyn-uitdaging verfilm en die Twitter-gebruiker @pvrity__ het die video op 27 Oktober 2016 gedeel.

Die leerlinge se video het ander groepe, veral professionele atlete en sportspanne, aangespoor soortgelyke video’s te verfilm, telkens meer ingewikkeld.

Calvin Munhuweyi, ʼn fotograaf van NeoPixel Media en Instagram South Africa het Sondag op Kampsbaai ʼn video verfilm van meer as 200 persone wat aan die uitdaging deelgeneem het, wat dit Suid-Afrika se grootste mannekyn-uitdaging tot nog toe maak.

Die Kampsbaai-video is reeds meer as 105 000 keer gekyk op Facebook, Instagram en YouTube.

Munhuweyi (@MrCalv) het die film- en redigeerwerk behartig en @MrCalv en @Instagram_SA was die regisseurs.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.