[Video] Seuntjie kom speel ‘skelm’ met die hond

Skermskoot van Josh Breaux op die kringtelevisiebeeldmateriaal

Skermskoot van Josh Breaux op die kringtelevisiebeeldmateriaal

Toe ʼn vrou ʼn veiligheidskamera in haar motorhuis laat installeer het, het sy nooit dié “oortreder” verwag nie.

Die “oortreder” was nie ʼn misdadiger nie, maar eintlik ʼn klein seuntjie wat by haar motorhuis inhardloop om haar hond te omhels.

Hollie Breaux Mallet van Louisiana in Amerika het die beeldmateriaal van die kringtelevisiekamera op haar Facebook-blad gelaai in ʼn poging om die seuntjie op te spoor.

“Aandag bure! Weet enigiemand wie dié oulike seuntjie is?” het sy geskryf. “Hy kom elke nou en dan, wanneer hy op sy fiets ry, vinnig in om bietjie liefde vir my hond te gee of vinnig met hom te speel, maar hy is gewoonlik só vinnig weer daar weg, asof hy dink hy mag nie daar wees nie! Ek wil graag vir hom sê hy is welkom om te kom speel, en sy [die hond] is mal oor die aandag!”

Ginger Clement Breaux het dadelik haar seun Josh in die video herken toe sy dit sien en Hollie laat weet. Sy het verduidelik Josh is dol oor diere, veral honde, en dat hy gereeld oor die hond praat. Volgens die Daily Mail is Josh se hond Bella onlangs oorlede.

Josh besoek nou gereeld vir Dutchess.

Die video van Josh se “skelm besoek” is al meer as 3,2 miljoen keer op Facebook gekyk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Sacha ·

Dis so mooi! Daar is niks soos ware liefde! Opreg en skoon van dier en kind!

Rick ·

Ongelooflik, laat my terugdink aan ‘n vriendskap wat ek met ‘n staffie gehad het – het ook met my fiets na hom toe gery – ek was so tien jaar oud, het werklik altyd daarna uitgesien. Die goed laat mens onthou hoe dit was om kind te wees. Belangrik ne?

christine ·

Regtige goeie goed voel storie het julle opgelet hy pas sy fietsie ook op laat hom saggies neer le oulike outjie

Vuissie ·

Wonderlike storie! Laat my dit sommer baie meer geniet om vir Asjas, ons kat, te vertroetel, veral as hy so daarop aandring om saam te try as ek iewerfs heen ry metmy bakkie.

Sputnik ·

Ons het jare gelede naby Laerskool Elarduspark gewoon. Ons honde het daagliks aandag gekry by die skoolkinders en het vir hulle by die hek gelê en wag wanneer dit tyd moet word dat die skool uitkom.

broos ·

dis mos hoe dit veronderstel is om te wees – waar kry jy nog kinders wat kan rondry op hulle fietse, huise wat nie ge-heining is, en honde wat nog vriendelik is? laat my sommer terug verlang na die ou dae

Eliza-beth ·

Ag oulik en wat ‘n soet hond is dit nie wat nie agterna storm en in die straat beland nie. Hoop die outjie het by die tyd al ‘n hondemaat gekry!

Karma ·

Wat ‘n goedvoel-storie op ‘n Blou, Blou Maandag! Ek stem – oulike seunskind, soet honne-kind wat nie in die straat agter die kind aanhardloop nie en wonderlike, veilige land/stad/dorp/ buurt waar die motorhuisdeure nog kan oopstaan en niemand wat nie daar mag wees nie, daar ingaan nie!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.