Video: Skilpad verjaag leeus by watergat

Skermgreep uit die video

ʼn Klein skilpadjie wat twee leeus van sy watergat wegjaag, is baie gewild op sosiale media.

Die gebruiker Kruger Sightings het die video op YouTube gedeel waar dit reeds meer as 1 miljoen keer gekyk is. Dit is ʼn seldsame, byna verwarrende, oomblik waar twee leeus, wat hul dors wou les, deur ʼn skynbaar aggressiewe skilpadjie weggejaag word.

Die video is deur die 30-jarige safarigids, Reggi Barreto, geneem toe hy op ʼn wildbesigtigingstoer was saam met ʼn privaat gas naby die Sandrivier in die MalaMala- privaat wildreservaat in die Groter Krugerpark.

“Ons het te hore gekom van ʼn paar leeus wat ʼn jong sebra gevang het,” het Barreto aan LatestSightings.com gesê. “Ek en my gaste het besluit om die middag te gaan kyk of ons hulle nog kan sien. Daar was baie olifante en wild op pad na die gebied waar die leeus was.”

Barreto sê hy het geweet die leeus sou op soek wees na water om te suip. “Ons het die perfekte plek gekry vir die besigtiging. Ons het egter nie verwag wat sou gebeur nie! Ek was aangenaam verras toe die skilpad uit die water na die mannetjie en wyfie aangeswem gekom het. Albei leeus kon hul dors les, selfs al is hulle kort-kort deur die skilpad onderbreek. Hulle het daarna weer terugbeweeg na die sebra.”

Volgens Barreto was dit ʼn ongelooflike seldsame toneel, om te sien hoe die skilpad die leeus nader terwyl hulle nog bloed op hul kenne gehad het van die sebra. “Dit het gelyk of die skilpad eerder nuuskierig was oor die bloed, as wat hy hulle wou ‘wegjaag’.”
Om die regte oomblik vas te vang, verduidelik Barreto, gaan daaroor om dieregedrag te verstaan en te voorspel wat hulle volgende gaan doen. “Dit verg baie geduld om na die diere te soek en tyd saam met hulle te spandeer om te kyk wat gaan gebeur.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

5 Kommentare

jongste oudste gewildste
dada

Jaws theme

Snowball

‘n Skilpad met leeumoed!

Irma

Een klein dapper skilpadjie.

Kirst

Ek glo nie die skilpad het hulle probeer wegjaag nie. Waterskilpaaie is karnivore. Ek dink dit het die bloed geruik aan hulle onderkake se hare en iets gesoek om te vreet. Dis duidelik waarheen die skilpad telkens mik. Jammer; ek sien nou ek het nie ver genoeg gelees nie, en die gids het dieselfde mening gehad.

LeanetteS

dapper skilpadtjie, Respek!!