Video: Slakke mik vir goud tydens slakresies

Skermgreep uit die video

“Agteros kom ook in die kraal”, maar in dié resies is al die slakke ʼn paar agterosse!

Dit was die afgelope Saterdag ʼn taai wedloop tydens die jaarlikse slakresieskampioenskap in Norfolk, Engeland. Meer as 160 slakke het vanjaar aan dié uitmergelende wedloop deelgeneem.

Die menslike deelnemers kan hul eie slakke bring of een op die dag van die organiseerders kies. Verskeie uitdunrondes word deur die loop van die dag gehou, en die eindstryd is ʼn wedren tussen die wenners van die uitdunrondes.

Sammy die slakkie, van Maria Welby, ʼn Engels-onderwyseres, het uiteindelik koning gekraai. Sy het hom op die dag uitgekies. “Ek het altyd geglo hy het dit in hom, die oomblik toe ek hom vroeër vandag ontmoet het,” het sy geskerts. “Dis nou nie wat ek verwag het om met my Saterdag te doen nie, maar miskien het ek ʼn splinternuwe loopbaan in slakresies, slakkampioenskappe.”

Jess Moore se slak het nie die mas opgekom nie. “Ek dink sommige slakke is vinniger as ander. Miskien moes ek groter slakke gekies het wat meer uithouvermoë en krag het. Ek sal dit dalk volgende jaar doen.”

Die kampioenskap word volgende jaar weer in Julie aangebied.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.