Video: Slimste plan as jy hond se naels moet knip

Skermgreep uit die video

ʼn Troeteldiereienaar het ʼn baie slim plan op sosiale media gedeel om jou hond se naels te knip as jy hulle, tydens die afsonderingsperiode, tuis moet versorg.

Lindsey Shelton, van Kalifornië in die VSA, is ʼn geregistreerde verpleegster, maar ook nou betrokke by ʼn diereskuiling. Sy het die video Saterdag op TikTok en Instagram gedeel, maar van daar het dit wyd op sosiale media versprei.

Kimberly Ensign, wat Lindsey se video op Facebook gedeel het, se plasing is reeds meer as 8 miljoen keer gekyk.

In die video het Lindsey kleefplastiek om haar kop gedraai en sy smeer dan grondboontjiebotter daarop. Sy laat weet kykers vinnig daar is nie enige xilitol in die grondboontjiebotter nie. Xilitol is ʼn kunsmatige versoeter wat gewoonlik in kos gebruik word om die produk suikervry te maak, maar dit is giftig vir honde – selfs in klein hoeveelhede.

ʼn Man in die agtergrond, wat verward klink, wil weet waarmee sy besig is. Lindsey lag en draai die kamera sodat kykers sy gesin kan sien. “Ek lyk dalk soos ʼn idioot, maar ek gaan binnekort soos ʼn genie lyk,” antwoord sy hom.

Lindsey kniel dan voor haar hond, genaamd Schmidt, sodat hy besig kan bly en die grondboontjiebotter aflek terwyl sy sy naels bykom.

Ander gebruikers het Lindsey bedank vir haar wenk en self video’s gedeel waar hulle dit uitgetoets het. “Ek het alles anders probeer, en hierdie is die enigste ding wat gehelp het!” skryf een. Talle het haar wenk as “geniaal” beskryf.

Lindsey reken die beste kommentaar wat sy gekry het, is toe iemand wou weet hoekom sy nie die agterkant van die lepel gebruik het nie.

BEST THING I have seen in a month!!???????? How to clip your doggies nails!!

Posted by Kimberly Ensign on Saturday, 18 April 2020

Klik hier as die video nie direk in jou webblaaier wil speel nie

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
Annelie

Uitstekend!!!!! Ek het Maandag probeer naeltjies sny, maar dit was n flop! Ek gaan dit verseker probeer

Boertjie

Ek wonder of dit sal werk as ek my honnekinners wil skeer wat nooit wil stilsit as mens hulle borskaste of pote wil skeer nie..