Video: So hittete! Man ontkom gewisse dood

Skermgreep uit die video

Dramatiese beeldmateriaal van ʼn motorfietsryer wat ʼn gewisse dood vryspring toe ʼn trein hom byna tref, maak opslae op sosiale media.

ʼn Video van die voorval in Mumbai wys hoe die motorfietsryer ternouernood aan die dood ontkom in ʼn breukdeel van ʼn sekonde voor die trein sy motorfiets aan flarde ry.

Volgens die Hindustan Times was dit ʼn Rajdhani Express-trein wat op 12 Februarie in die voorval betrokke was.

Die video wys hoe ʼn motorfietsryer die spoorlyn wil oorsteek – skynbaar nie besorg oor die aankomende trein nie. Hy ignoreer selfs die valboom by die spooroorweg wat mense verhoed om die spoorlyn oor te steek wanneer daar ʼn aankomende trein is, berig Loksatta.

Sy poging om sy eie lewe te red was suksesvol, maar sy motorfiets is daarmee heen.

Die kringtelevisiebeeldmateriaal wys hoe die motorfietsryer laat spaander net voor die trein oor sy motorfiets ry.

Die video het opslae gemaak op sosiale media.

“Dit was beslis die motorfietsryer se skuld,” het een Twitter-gebruiker geskryf. “Hy wou slim wees, selfs al was die hek toe.”

“Mense wat die reëls op só manier breek moet vervolg word,” reken ʼn ander.

“Hy is baie gelukkig om te leef,” sê nog iemand.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.