Video: Só lyk suiderlig uit die buitenste ruim

Skermgreep uit die video deur Thomas Pesquet (Video: thom_astro/Instagram)

Meeste mense kan maar net daarvan droom om eendag die noorder- of suiderlig te sien, maar het jy al ooit gewonder hoe dit uit die buitenste ruim sou lyk?

Die Franse ruimtevaarder Thomas Pesquet het ʼn unieke uitsig gedeel van die suiderlig (ook genoem Aurora australis) soos gesien uit die Internasionale Ruimtestasie (ISS).

Die tydsverloop-video wys die groen uitspansel van lig oor Aarde se oppervlak.

“Die wolke ding mee vir aandag in dié aurora-tydsverloop oor ʼn blou oseaan,” het hy by die video geskryf.

In die video kan mens sien hoe die ruimtestasie oor die planeet beweeg.

Aan die suider- en noorderhemel is ‘n ligskynsel gemiddeld 5 tot 10 keer per jaar bokant die horison sigbaar, en dit lyk soms of dit in beweging kan wees. In die Suidelike Halfrond staan hierdie skynsel, die poollig, as Aurora australis, en in die Noordelike Halfrond as Aurora borealis bekend. Digby die pole word die ligskynsel uit alle windstreke waargeneem, sodat hier eerder die algemene benaming poollig gebruik word.

In die geval van die half ronde word daar ook van die suider- en noorderlig gepraat. Die poollig verander elke minuut van kleur en vorm, hoewel daar wel ‘n aantal basiese vorme onderskei word. In die Suidelike en Noordelike Halfrond word meestal ‘n wit of groenwit poollig gesien wat laag bokant die horison hang en ʼn vervloeiende borand en ‘n skerp begrensde onderrand het.

Volgens moderne opvattinge word die poollig veroorsaak deur wolke van elektries gelaaide deeltjies (elektrone en protone) wat deur die son in die omgewing van die sonvlekke uitgestoot word. Wanneer hierdie deeltjies die aarde se magneetveld bereik, word die veld versteur en veroorsaak hulle ʼn magnetiese storm, wat ook radioverbindings kan versteur.

Via die magnetiese veldlyne, wat by die pole naastenby loodreg op die aardoppervlak staan, kan die deeltjies die hoër lae van die aarde se atmosfeer binnedring. In een geval kan botsings tussen atome en/ of molekules van binnedringende deeltjies en deeltjies in die atmosfeer energie-uitruiling tot gevolg hê. Dit veroorsaak dat elektrone uit hulle oorspronklike energievlakke beweeg, sodat energie vrykom, wat as sigbare (pool) lig waargeneem word.

Pesquet is tans aan boord met ʼn projek deur die Europese Ruimte-agentskap. Hy het verlede maand ook ʼn rits foto’s van die poollig gedeel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Misky ·

Wow!!!! Werklik besonders en ons lewe darem op ‘n mooi planeet

Karina ·

Dit moet ‘n belewenis wees om die aarde te besigtig van die buitenste ruim, die video is fantasties.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.