Video: Speelding met oorlede ma se stem roer harte

Antonio Vargas en sy seun, Antonio jr. (Foto: Facebook/Anthony Vargas)

ʼn Seun van Florida in die VSA het hierdie Kersfees ʼn geskenk ontvang wat harte reg oor die wêreld geroer het.

Internetgebruikers is gaande oor ʼn video wat die ronde doen van die seun, Antonio, wat die geskenk, ʼn opgestopte apie, oopmaak. Sodra hy op die apie se hande druk, speel sy oorlede ma se stem.

Volgens The Daily Mail het die seun se pa, Antonio Vargas snr. van Orlando, die aanloop tot dié aangrypende oomblik op kamera vasgelê – van waar hy die apie spesiaal vir Antonio jr. laat maak het, tot waar sy seun in trane uitbars terwyl hy die speelding styf teen sy bors vasdruk.

Antonio jr. se ma is in Julie vanjaar skielik oorlede. Sy pa het verskeie opnames van haar stem gehad waar sy met “haar klein apie” praat. Vargas het die opnames na die maatskappy Build-A-Bear geneem.

Die apie.

Elke keer wanneer Antonio jr. op die apie se hande, voete of magie druk, speel ʼn opname van sy oorlede ma wat sê: ‘Gee my ʼn groot drukkie, ek is lief vir jou,’ of ‘Ek is so lief vir julle en sal altyd wees,’ en ‘Sê vir hom mamma is lief vir hom’.

“Dit is regtig ʼn aangrypende oomblik vir my as ouer om hierdie speelding te maak met ʼn hartklop wat met my seun kan praat,” het Vargas gesê. “Sy ma is op 4 Julie oorlede. Ons het hom altyd ons ‘klein apie’ genoem. So op Kersdag is sy droom bewaarheid.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Anoniem ·

Hierdie is wraggies ‘n goeie pa – die beste present wat hy kon gee vir sy seun. Respek.

Marinda ·

Wat ñ geskenk. Ai, my hart skoon stukkend vir die kind. Wat ek nie sou gee om weer my ma se stem te hoor nie.

Besemryer ·

Daar was ook ‘n ma wat vir haar twee dogter beertjies gegee het met hulle oorlede pa se stem op asook sy naskeermiddel wat op die bere gespuit was. Dis so ‘n lieflike geskenk!!

Anda le Roux ·

Jammer dat ek anders as julle hieroor dink. Ek glo dat enigiemand afsluiting na d dood van ‘n geliefde moet kry, hoe swaar dit ookal is. Hierdie kind se hart word telkens weer van vooraf gebreek as hy sy mamma se stem hoor. Dit gaan hom baie langer neem om sy verlies te verwerk as ander kinders wat nie so ‘n speelding het nie. Hy hoor mos haar stem in sy hart (denke) as hy aan haar dink en dit is genoeg vir solank hy lewe. Moenie mense (veral kinders) se lyding langer uitrek as wat nodig is nie. Hulle móét met hul lewens voortgaan ondanks hul verskriklike verlies…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.