Video: Tieners red koalas in Australië

Skermgreep uit die video

ʼn Video van twee neefs, onderskeidelik 18 en 19 jaar oud, wat koalas uit verwoestende veldbrande in Australië gered het, raak wêreldwyd harte aan.

Meer as 25 000 koalas het vermoedelik reeds in die brande omgekom. Volgens The Telegraph is die “bykans onblusbare brand” op Kangaroo Island, wat ʼn veilige hawe vir koalas was, ʼn groot kommer vir ekoloë. Twee tieners wat rondry en so veel as moontlik koalas probeer red, is ʼn ligpunt vir talle.

Volgens Ladbible is dit twee neefs, Micah (19) en Caleb (18). ʼn Video wat die afgelope Saterdag op Reddit gedeel is, wys die groep koalas wat uit die katastrofiese brande gered is. Vyf koalas rus op die sitplekke en agter die stuurwiel. ʼn Volwasse koala is agter in die oop luikrugspasie gelaai. “Ons moes die ma in die kattebak laai; sy was bietjie aggressief,” lui ʼn beskrywing by die video wat ook op YouTube gedeel is.

Die twee tieners se neef het dit op Reddit gedeel: “Te midde van die verskriklike veldbrande in Australië, het my neefs so veel as moontlik koalas probeer red.”

Die video is reeds bykans 280 000 keer op YouTube gekyk.

“Hulle lyk angsbevange en uitgeput. Die wêreld kort meer mense soos jou neefs,” het een persoon in die kommentaar geskryf. “Sê dankie aan jou neefs dat hulle hierdie oulike babas gered het,” skryf ʼn ander.

Volgens Micah en Caleb het hulle ongeveer 20 koalas gered deur op die eiland rond te ry en hulle in die motor te laai. Hulle het slegs die koalas opgelaai wat die ergste geraak word deur die brande. Minstens 60% van die koalas waarop hulle afgekom het, het reeds in die brand omgekom.

Die twee beplan om die koalas te versorg totdat hulle weer in die natuur vrygelaat kan word.

Sam Mitchell, mede-eienaar van die Kangaroo Island Wildlife Park, het aan Guardian Australia gesê “meer as die helfte” van die eiland se koalas het waarskynlik in die brand omgekom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Beertjie ·

Mooi julle. Dit is so verskriklik hartseer dat diere deur sulke pyn en lyding moet gaan.

Anina ·

Baie baie dankie julle! Dit breek my hart as ek hoor van al die diere wat reeds dood is daar in Australia.

Misky ·

Ag moeder-liefde en dis dierbaar en my hart so seer vir die res wat nie gered kan word nie. Wens ek was in `n posisie om selfde te kon doen en gaan help. Wel gedaan aan die outjies en `n voorbeeld vir soveel ander mense. Goeie gebaar

Heksie ·

My hart breek vir al die diere wat so verkool het … dis bitter hartseer …

Mic ·

Julle Sal wraggies reguit Hemel toe gaan eendag! Dankie vir die goeie werk wat julle doen..

Patch ·

Baie hartseer om te lees van al die diere wat dood is. Dankie aan die dapper jongmanne wat hierdie koala’s gered het. Die video’s wat ek al gesien het waar rye en rye kangaroo’s langs paaie dood lê, breek my hart in stukke.

Weskusnooi ·

Ag dis dierbaar, wel gedaan jongemanne!

Wens daar was meer soos julle!

Jul sal jul pêrels in jul kroontjies kry eendag!!

Ek bid dat dit gou sal reën oor al die brande en dit blus!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.