Die video volg onderaan die berig. ʼn Video van reisigers se reaksie op ʼn “towerklavier” in die middel van Chicago se Union Station is ʼn internetsensasie.
Die video is die afgelope twee weke reeds meer as 3 miljoen keer gekyk.
Rob Bliss Creative het die klavier glo opgestel om reisigers te verras, vermaak en so bietjie te tart. Die klavier is só opgestel dat dit oor ʼn afstand deur die professionele musikant, Andrew Blendermann, gespeel kan word.
Gebruikers van die sosialemedia-netwerk Reddit voer egter aan dit is nie eg nie en dat die “akteurs” in die video vooraf gehuur is, berig USAToday. Daar was glo ook selfs ʼn advertensie waarin toneelspelers gesoek word.
Bliss het verduidelik dat hy wel ʼn advertensie geplaas het, maar dit was slegs sodat ʼn paar mense op die video sou weet hulle word verfilm. Bliss het aan Yahoo News gesê hy dink die “oorgrote meerderheid” het nie geweet hulle word afgeneem nie.
Amtrak het die goedhartige poets finansier. “Hulle wou iets spesiaal doen vir hul gaste tydens die feesseisoen,” het Bliss gesê.