[Video] Vou ʼn papiervliegtuig saam met die kampioen

John Collins (Skermgreep uit die video)

Meeste van ons het al ten minste probeer om ʼn papiervliegtuig te vou – soms was dit minder suksesvol…

Die oorsprong van papiervliegtuie dateer terug na Antieke China (460 – 390 v.C.), alhoewel daar ook bewyse is dat dit terselfdertyd in Japan ondersoek en daarmee geëksperimenteer is.

Die beduidendste gebruik van papiermodelle van lugvaartontwerpe is deur die Wright-broers tussen 1899 – 1903. Die Wrights het ʼn windtonnel gebruik om kennis op te doen van die kragte wat gebruik kan word om ʼn vliegtuig mee te beheer. Hulle het verskeie papiermodelle gebou en dit in die windtonnel getoets.

Daar was al talle pogings om die wêreldrekord te verbeter en Ken Blackburn was 13 jaar lank (1983 – 1996) die Guinness Wêreldrekordhouer vir die langste vlug. Hy het in 1998 weer die rekord verbeter toe sy vliegtuig 27,6 sekondes lank (binneshuis) in die lug gebly het. Intussen het Takuo Toda in 2012 dié rekord verbeter met 27,9 sekondes.

Die afstandrekord is in Februarie 2012 opgestel deur ‘n professionele voetbalspeler, Joe Ayoob, met ʼn vliegtuig wat deur John Collins gebou is. Collins het origami en aërodinamika studeer om papiervliegtuie te ontwerp wat ʼn wêreldrekord kan opstel. Die vliegtuigie het 69.14 meter ver getrek.

Collins verduidelik in talle video’s op YouTube presies hoe jy ook ʼn kampioen-vliegtuig kan vou en selfs hoe om ʼn papiervliegtuig te vou wat soos ʼn boemerang na jou terugkeer.

Kyk nog video’s: John Collins en ThePaperAirplaneGuy of besoek sy webwerf

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.