Video: Vrou dag dis ʼn bom in die pos

Skermgreep uit die video

Kyleigh McKellep Crowell van San Antonio in Texas het verlede week Donderdag ʼn video op Facebook gelaai en met haar vriende gedeel dat sy die polisie moes ontbied nadat ʼn verdagte pakkie by haar afgelewer is.

“Ek is so skaam, maar dit is só snaaks,” sê Crowell in die video, terwyl sy lag-huil en verduidelik wat gebeur het. Die pakkie is by hul huis afgelewer en was aan haar man geadresseer. Toe sy die boks oopmaak, was daar ʼn eienaardige masjien in met klomp drade en silwer kleefband aan die onderkant.

Sy het dadelik die noodnommer 911 geskakel. “Ek het nog nooit ʼn bom gesien nie, hoe moet ek weet hoe een lyk?” Sy het vir die 911-operateur gesê sy dink daar is ʼn bom op haar toonbank en wou weet wat sy moet doen, want sy het drie kinders wat lê en slaap in die huis.

Sy het die kinders, wat op die boonste verdieping gelê en slaap het, gaan haal en na haar bure se huis geneem.

Brandbestryders en San Antonio se polisie is na haar huis ontplooi en hulle het dadelik ondersoek ingestel.

“Hulle het uit die huis gekom en gelag, en ek wou weet wat aangaan. ‘Gaan my honde in die huis ontplof?’ En hulle wou weet of ek ʼn motor vir iets bestel het.” Die beamptes wou weet of sy dalk ʼn enjin vir ʼn motor bestel het. Maar sy het bevestig hulle het niks vir haar motor bestel nie. En uiteindelik tref dit haar: “Ouens, dis die motor vir my tuimeldroër!”

Crowell se video op haar profiel is al meer as 6,7 miljoen keer gekyk en op die Facebook-blad Viral TRND is die video die afgelope twee dae reeds meer as 10.3 miljoen keer gekyk.

Sy het later ook op talle navrae reageer en bevestig die drie kinders is nie haar eie kinders nie. “Hulle was net in daardie stadium in my sorg. Alhoewel hulle nie my eie kinders is nie, bly hulle my eerste prioriteit wanneer hulle in my sorg is.”

In die video verduidelik Crowell sy was so angstig om met die kinders uit die huis te kom, en so bang om weer in die huis terug te gaan, dat sy haar troeteldiere in die huis moes los. “Moenie bekommerd wees nie, ek is baie lief vir my twee honde en katte. Hulle is my babas! Ek het regtig die 911-operateur gesmeek om hulle te gaan haal [nadat sy die kinders by die bure gelos het].” Die honde was egter in hul hok toegesluit op die boonste verdieping omdat Crowell en haar man die huis met plaagdoder laat spuit het teen vlooie en ander insekte. “As hulle nie toegesluit was nie, kon ek net die deur oopgemaak het en hulle sou saam met my kon kom.”

Sy voeg by daar was ook nie enige aanduiding van wie af die pakkie gekom het nie en daar was niks anders in die boks nie, ook nie ʼn handleiding nie. “Die enigste rede hoekom my man se naam op die pakkie was, is omdat sy naam op ons waarborg is.”

Crowell se man is in die weermag en sy sê dit is nie ongewoon dat sy hom nie dadelik in die hande kon kry om te hoor of hy dalk weet wat in die pakkie kan wees nie. “As weermagfamilies is ons maar altyd op ons hoede en baie versigtig.”

Terloops, voeg sy by, die tuimeldroër is nog steeds nie herstel nie.

https://youtu.be/qG5Cq6WsvyQ

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.