[Video] Vrou pak haai kaalhand in getypoel

‘n Skermskoot uit die video

ʼn Video van ʼn Australiese eiendomsagent wat ʼn haai kaalhand uit ʼn getypoel sommer “aan die nek gryp” en tot in die see gooi, versprei soos ʼn veldbrand op sosiale media.

Melissa Hatheier van New South Wales in die suidooste van dié land het oornag ʼn internetsensasie geword nadat dié video op sosiale media versprei is.

Hatheier het aan The Sydney Morning Herald vertel sy kan nie eintlik verstaan waaroor al die bohaai gaan nie – sy het immers net “ʼn klein haaitjie gevang” en sy sou dit boonop nie doen as “hy groot tande gehad het nie”.

Sy het aan dié webwerf vertel haar ma swem daagliks in die getypoel vir die pret en sommer om oefening ook te doen. Haar ma het haar glo op dié spesifieke dag gebel om te sê daar swem ʼn haai, vermoedelik ʼn Port Jackson-haai, in die poel en sy is nie seker wat om te doen nie, waarna Hatheier na die getypoel gery het.

“Ek het ingespring en gedink: ‘Ek kan hom tien teen een uit die water kry.’ My liewe ma het intussen die polisie gebel en hulle het ook by die toneel opgedaag. Hulle het ook nie geweet wat om te doen nie. Toe sê ek: ‘Ek dink ek kan hom net gryp.’ Ek het hom gevoel tot in die vlakker water en toe op my knieë gaan sit. Ek het hom toe sommer aan die nek gegryp, opgetel en in die seewater teruggegooi,” vertel sy.

Sy sê sy was oortuig die haai sou haar nie kon byt as sy hom by die nek vashou nie. “Ek was nie eintlik bang dat hy my sou byt nie omdat ek hom by die nek vasgehou het, maar sy vel was wel bietjie skubberig en krapperig gewees – anders as wat ek verwag het.”

Hatheier se pa is ʼn jaar gelede aan kanker oorlede. Sy vertel haar pa se laaste woorde aan haar was om na haar ma om te sien. “En nou doen ek presies dít – ek het seker gemaak die getypoel is veilig sodat my ma daarin kon swem.”

Die video is geneem deur Hatheier se dogter, Shannon. Die video is bykans 200 000 keer op YouTube gekyk.

https://youtu.be/XMkbcnsTbRg

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

RC ·

Dis nie baie dogters wat so braaf sal wees nie. Ek self sou gewag het vir iemand om die haai te kom uithaal.

Eiendomsagent ·

n Eiendomsagent met hare op haar tande….daars geen ander manier ☺

Jay ·

Moenie met die tannie mors nie. Ek sal net graag die gesigte wou sien van die polisiemanne. Vroulike vorm van Steve Irwin.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.