Video: Vrou steel fiets terug by dief

Kayla Smith van Vancouver in Kanada was só ontsteld nadat haar fiets verlede week gesteel is, dat sy besluit het om haar fiets terug te steel, het Today News Woensdag berig.

Smith (33) se fiets ter waarde van $1 000 (ongeveer R10 000) is verlede week uit Olympic Village gesteel. “Ek is ‘n goeie mens, waarom sal iemand so iets aan my doen?” het sy aan Kevin Tibbles van NBC gesê. ‘n Vriend het toe op Craigslist, ‘n webwerf waar mense tweedehandse ware kan koop en verkoop, ‘n advertensie raakgesien van ‘n soortgelyke fiets. “Die fiets is vir $300 (ongeveer R3 000) adverteer.”

Smith het met die polisie in verbinding getree, maar was bekommerd dat hulle te lank gaan vat om te reageer. “Die ou verkoop nou my fiets!” het sy op die sosialemedia-webwerf Reddit geskryf. “Ek gaan nie die geleentheid laat verbygaan nie. Ek gaan self iets doen.”

Smith het reëlings getref om die verkoper in die parkeerarea van die plaaslike McDonald’s te ontmoet. Sy het aan die verkoper gesê sy wil graag die fiets vir ‘n toetslopie vat. “Die man het eers gehuiwer, maar toe ingestem.” Sy het op die fiets geklim, weggery en nooit weer teruggedraai nie.

Alhoewel Smith se storie ‘n gelukkige einde het, het owerhede die publiek gewaarsku om nie in haar voetspore te volg nie. “Om self ‘n ontmoeting met die persoon te reël kan baie gevaarlik wees,” het die Vancouver-polisie in ‘n verklaring gesê. “Mens weet nie wie jy gaan ontmoet, hoeveel mense daar gaan wees of hoe desperaat die persoon kan wees nie.”

Die vermeende dief is nog nie vasgetrek nie. Smith het bevestig dit is wel haar fiets nadat sy die reeksnommer nagegaan het.

Visit NBCNews.com for breaking news, world news, and news about the economy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.