Video: Vryvallers vlieg deur Tower Bridge

Marco Fürst en Marco Waltenspiel van Oostenryk vlieg deur die Tower Bridge (12 Mei 2024) (Foto: Joerg Mitter / Red Bull Content Pool)

Twee Oostenrykse vryvallers, Marco Fürst en Marco Waltenspiel, het Sondag ʼn merkwaardige kordaatstuk uitgevoer toe hulle suksesvol met hul vliegpakke deur Londen se ikoniese baken, die Tower Bridge, gevlieg het.

Die twee het Sondagoggend om 05:45 uit ʼn helikopter gespring en hul vliegpakke oopgesprei totdat hulle sowat 35 m bo die water in die rigting van die Tower gesweef het, berig Red Bull.

Ná hulle suksesvol deur die gaping gesweef het, het hulle weer tot ʼn hoogte van 80 m beweeg voor hulle hul valskerms oopgemaak het. Hulle het ʼn beheersde landing uitgevoer op ʼn toegewyde platform langs die Teems.

Die vlug, van opstyging totdat hulle aan die ander kant van die Tower uitgekom het, het 45 sekondes lank geduur. Die twee het ʼn maksimumspoed van 246 km/h behaal.

“Ek voel wonderlik,” het Fürst gesê. “Dit was ʼn baie mooi sprong. Alles het baie goed uitgewerk. Ons het die afgelope twee en ʼn half jaar lank deeglik aan alles beplan en voorbereiding en opleiding gedoen. Ek het die reis geniet en ek is baie dankbaar om saam met Marco te kan werk. Ons het ʼn goeie span wat ons drome ʼn werklikheid gemaak het.”

Waltenspiel beaam dit. “Mens kan nie hierdie unieke brug herbou nie. Ons het tydens ons oefening sowat 200 spronge uitgevoer vir hierdie dag, vir hierdie minuut. Die verskil tussen oefening en die dag is natuurlik baie groot. Dit is nie ʼn gewone sprong nie, dit is baie uniek. Dit was nogal intens, en ek is op die oomblik verskriklik gelukkig.”

Voorbereiding vir dié poging het in April 2022 begin en ʼn spesiale perseel vir hul oefeninge is in Oxfordshire in die Verenigde Koninkryk opgerig. Dit het twee hyskrane ingesluit wat die dimensies van die Tower verteenwoordig het.

Vliegpak-vlugte is ʼn revolusie in die wêreld van vryvallers. Dit verander die vertikale daling na horisontale vlugte, gevolg deur ʼn veilige landing met ʼn valskerm.

Fürst en Waltenspiel, lede van Red Bull se vryvalspan, is van die wêreld se beste vliegpak-praktisyns.

Marco Fürst en Marco Waltenspiel van Oostenryk vlieg deur die Tower Bridge (12 Mei 2024) (Foto: Alex Grymanis / Red Bull Content Pool)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Niklaas ·

Dis een ding om steil berge te klim , scuba duik , valskerm vryval…maar hier trek mens wragtig die streep.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.