Video: Witleeu en hond is groot vriende

Honey, die hond, en Kwanza, ʼn witleeuwelpie is beste vriende by die Darling Downs-dieretuin in Pilton, Queensland.

Kwanza se ma het hom oorspronklik grootgemaak totdat sy nie meer melk produseer het nie. Die eienaars van die dieretuin het ingespring en Kwanza met die hand begin grootmaak.

Kwanza het intussen ʼn spesiale band met Honey, die dieretuin se hond, gevorm en hulle spandeer tyd saam deur oral ondersoek in te stel, te stoei en sommer net saam te speel. Kwanza is op 12 November 2012 gebore en het sowat 1,6kg geweeg. Nou, vier maande later, is hy ʼn energieke en sterk jong welpie.

Die witleeu is nie ʼn afsonderlike spesie of albino nie. Hulle het duidelike pigment in hul oë, pootkussings en lippe. Die mannetjiesleeus kry vaalkleurige maanhare. Die wit kleur is weens ʼn resessiewe geen wat die kleur onderdruk. Daar is sedert 1994 nog geen witleeus in die wild opgemerk nie.

Alhoewel die twee nou groot vriende is, sal die situasie slegs van ʼn tydelike aard wees. Kwanza sal binnekort met ander leeus moet begin speel. Die eienaars laat weet niemand hoef egter oor Honey bekommerd te wees nie, hy is oral geliefd.

Klik hier vir meer inligting oor Kwanza.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.