Kelvin Doe (15) van Sierra Leone is die jongste persoon ooit wat genooi is om aan die gaspraktisynsprogram by die Massachusetts Instituut van Tegnologie (MIT) in Amerika deel te neem.
Kelvin, ook bekend as DJ Focus, bly in ʼn gebied in Sierra Leone waar elektrisiteit slegs een keer per week beskikbaar is. Hy het homself geleer hoe om ʼn battery te bou om ligte in mense se huise te laat brand. Hy het ook sy eie radiosender en kragopwekker gebou deur onderdele te gebruik wat hy in asblikke opgetel het. Kelvin het sy tegnologie aan die studente van Harvard College en MIT voorgelê. David Sengeh, ʼn doktorale student van MIT Media Lab, deel Kelvin se storie in dié video wat reeds meer as 1,2 miljoen keer op YouTube gekyk is.