Vonds in motorhuis maak hom ʼn miljoenêr

Die skildery wat in die motorhuis gevind is.

Dit klink soos iets uit ʼn rolprent, maar ʼn vonds wat in ʼn motorhuis gevind is gaan moontlik van die eienaar ʼn miljoenêr maak.

CNN berig ʼn man van Scottsdale in die Amerikaanse deelstaat Arizona se buurman het hom help verhuis na ʼn ouetehuis. Die buurman het tydens die trek op ʼn getekende plakkaat van die LA Lakers afgekom. Hy het voorgestel dat hulle ʼn afslaer kontak om te kyk of die plakkaat enigiets werd is.

Josh Levine, die afslaer, het die waarde van die plakkaat op $300 geraam. Hulle is na die motorhuis om te kyk of daar nog iets waardevol is en dit is toe dat hulle op ʼn skildery afgekom het. Die afslaer het dadelik vermoed dit is die werk van die bekende Amerikaanse skilder Jackson Pollock.

Levine het die skildery na sy kantoor geneem waar dit vir drie maande eenkant gestaan het terwyl hy probeer vasstel het hoe die skildery in die man se motorhuis beland het. Dit is toe dat hy agtergekom het die man het die skildery by sy halfsuster, Gordon Cosgriff, geërf ná haar dood. Sy het in dieselfde sosiale kringe as Pollock beweeg.

Levine het maande daarna duisende dollars bestee om te probeer vasstel of die skildery wel ʼn Pollock is. Uitgebreide analise en toetse het bevestig dit is wel deur Pollock geskilder. Die skildery moet nou gerestoureer word waarna dit op 20 Junie opgeveil sal word.

Daar word verwag dat die skildery tussen $10 miljoen en $15 miljoen kan haal.

Lees meer hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Theresa ·

Dis SO lekker om van iemand se geluk te lees – hoop hy spaar en spandeer wys!

Linda ·

Theresa, hy is redelik oud as hy oppad ouetehuis toe is. Ek sal spend of dit uit die mode uit gaan. Die binnekant van ‘n vliegtuig sal my meer sien as die ouetehuis :)

Johann ·

Gaan die naweek my motorhuis tackle!!! ‘N ou Piernefie sal doen

jaco ·

So iets kan nie in SA gebeur nie. Die skildery sal LANKAL gesteel gewees het.

Tokkie ·

Ek het ook ñ pot wat ek nie weet wat die waarde is. Te bang om waarde te bepaal netnou niks werd of dalk ook miljoene

Saartjie ·

Soms moet mens net nie die waarde van iets weet nie. Enkele jare gelede het ek bietjie affirmative stealing aan huis gehad. Gelukkig was my verloof- en trouring aan my vinger. Nadat die versekering uitbetaal het, was aangedring dat ek my ringe laat herwaardeer – dit was jare laas gedoen. Oeps, daar word die ringe so hoog waardeer dat ek nou te bang is om dit te dra en lê dit meestal in ‘n kluis weggebêre – soms is dit net beter om nie te weet nie.

arizona ·

En daai afslaer wat “duisende” rand op die skildery spandeer het doen al hierdie dinge omdat hy n goeie mens is. Gmf. Wonder hoe groot gaan sy snytjie koek wees.

SkarrelKind ·

Hy kon gelieg het en dit gehou het – en ‘n $10 mil koek, met moewiese baie snye, kan almal maar van kry, veral as mens aan die einde van jou lewe gekom het!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.