Verbeel jou jy word in die oggend wakker net om uit te vind die hond, wat knus teen jou gelê het, is nie joune nie. Dis presies wat met ʼn paartjie van Tennessee in die VSA gebeur het.
Jimmy Johnson het sy oë oopgemaak en nie die hond in hul bed erken nie.
“Ek het omgerol na my kant van die bed en gesê, ‘nee, nee, nee, dis nie ons hond nie’,” lag Julie Johnson.
Die egpaar vermoed hul agterdeur het dalk per ongeluk oopgestaan en die nuwe huismaat het haarself kom tuismaak.
Ná ʼn plasing op Facebook wyd versprei is, het iemand die hond as Nala uitgeken.
“Ons het ʼn boodskap op Facebook gekry van iemand wat gesê het dis hulle hond. Hulle was binne ʼn paar minute by ons.”
Die Johnsons kon bevestig dit is inderdaad die gesin se hond ná hulle foto’s as bewyse aangestuur het.
Nala het byna 3 km gestap voor sy haarself in die Johnsons se bed tuisgemaak het.
Julie het op Facebook gesê dis heeltemal normaal vir hulle om wakker te word met een van hul eie honde in die bed. “In die donkerte het ons eers gedink dis ons eie hond, maar hulle lê selde op die kussings. Toe dit begin lig word, het ons eers besef dis iemand anders se hond in ons bed!”
Julie het bygevoeg dit is die vreemdste Facebook-plasing wat sy nog ooit moes maak om te vra wie se hond dit is.
Chris Hawkins, Nala se eienaar, het gesê dit is ʼn nuwe hoogtepunt vir Nala wat graag mense se persoonlike ruimte ignoreer. “Sy het die vorige dag uit haar halsband geglip toe ons met haar gaan stap het. Sy het in die straat af gehardloop en in die middel van die nag op een of ander manier in die bure se huis beland.”
Chris sê die Johnsons se ander drie honde het ook glad nie reageer op die vreemde huismaat nie. “Gelukkig het hulle gedink dit is baie snaaks en hulle is darem glad nie kwaad nie!”
Dis eintlik ‘n oulike storie.
Hoe kan n mens by n hond slaap?
Gemaklik, beter as party huis maats.
Glo verseker die woef kind is skoner as party mense.
Ek slaap saam met my twee honde. In die winter onder die komberse!
My honde slaap ook in my bed dis die lekkerste cuddles wat mens kry
Jy slaap nie by die hond nie, jou honde slaap in die huis en soms op jou bed …
Ek slaap nie met my hond maar as sy voel sy wil inkryp het ek glad nie n probleem nie , mens kan die liefde voel wat hulle vir n mens het.
Dis n pragtage storie :)
inkruip
Nie in my bed, maar op hul eie bed. Nogal n noodsaaklikheid vir plaasveiligheid.
Jy sal nooit weer koue voete kry nie!
Maklik. Hy spring op en hy slaap LOL
ag hoe oulik… my 3 Boerboele slaap ook in die winter in my kamer. Wanneer dit bedtoegaan tyd is dan spring hulle oor en weer en le op ons bed. Dan is daar natuurlik nie plek vir my en my man nie… maar wanneer die ogies begin swaar hang dan skop ons die honde af want hulle het elkeen hul eie groot kussing.
Kostelike en pragtige storie. Maroela Media, daar is egter ‘n verskil tussen ‘erken’ en ‘herken’. Sal waardeer indien julle dit kan regstel, dankie.
Ek het ‘n maltees wat dieselfde doen. Hy glo hy moet agter my rug slaap met sy kop op ‘n kussing en glo my in die nag kry jy hom nie beweeg nie hy het dan die gewig van ‘n olifant.
Hierdie tipe ding sal nie sommer in SA gebeur nie – jy durf nie jou agterdeur per ongeluk laat oopstaan nie… en as jy doen, sal dit nie so oulike storie wees nie