Vreugdes van wêreld se oudste man: warmbronne en lekkergoed

Masazo Nonaka (Foto: Masanori Takei/Kyodo News via AP)

Masazo Nonaka het al jare lank die warmbronne in die noorde van Japan geniet – dalk langer as meeste mense!

Nonaka is Dinsdag as die wêreld se oudste man bevestig in die ouderdom van 112 jaar en 259 dae. Hy het ʼn sertifikaat van Guinness-wêreldrekords ontvang tydens ʼn seremonie by sy huis in Ashoro, op Japan se noordelike eiland, Hokkaido. Die geleentheid is gevier met ʼn groot koek wat met bessies versier is.

Hy is op 25 Julie 1905 gebore en het in ʼn groot gesin grootgeword. Sy familie bestuur al vier generasies lank die hotel by die warmbron en hy het as bestuurder by sy ouers oorgeneem. Sy kleindogter Yuko bestuur tans die 105-jarige hotel.

Hy ontspan gereeld in die warmbron en geniet lekkergoed, veral koeke. Hy lees elke oggend die koerant ná ontbyt en geniet dit om na sumo-stoeiers en samurai-dramas op televisie te kyk. Sy gunstelingtydverdryf bly egter die warmbron.

Hy het sewe van sy broers en susters oorleef, asook sy vrou en twee van hul vyf kinders. Hy is een van ongeveer 67 800 persone in Japan ouer as 100 jaar. Japan het die hoogste gemiddelde lewensverwagting in die wêreld, naamlik 80.98 vir mans en 87.14 vir vroue, aldus die ministerie van gesondheid, arbeid en welsyn.

Guinness sê Nonaka het Francisco Olivera van Spanje uitgestof, nadat Olivera vroeër vanjaar in die ouderdom van 113 oorlede is. ʼn 117-jarige vrou van Japan, Nabi Tajima, is tans die oudste persoon in Japan en sal waarskynlik as die wêreld se oudste persoon gesertifiseer word nadat Violet Moss-Brown van Jamaika (117) in September heengegaan het.

Met ʼn gebreide mus en kimono-baadjie het hy saam met sy gesin vir ʼn foto poseer. Hy kom nog op sy eie oor die weg in ʼn rystoel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Kallie ·

Moet asseblief nie die lekkergoed gedeelte te ernstig opneem nie. Suiker en verfynde stysel is regtig baie sleg vir gesondheid en versnel veroudering.

Adri ·

Goeie Afrikaans vir “generasies” is die pragtige woord “geslagte”.

Cherokee ·

..en niks anglisisties aan geslagte nie want dit is oorspronklik. Dankie Adri, jy let fyn op.

Gehardt O ·

Om te dink wat het hy alles beleef. Atoombomme, tsunami’s, aardbewings ens

Daan ·

Nie die oudste man nie en 117 nie die oudste wat nog gelewe het nie, verlede jaar man dood op 146 wat nog ‘n kwaai roker ook was.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.