Vrou betaal meer as R32 000 vir ʼn trossie piesangs

Argieffoto (Foto: Juan Zelaya/Pixabay)

ʼn Vrou was stom van verbasing toe Marks & Spencer, ʼn Britse multinasionale kleinhandelonderneming (ook bekend as M&S), haar £1 599 (sowat R32 600) vir ʼn trossie piesangs gevra het.

Die vrou was onlangs by haar plaaslike Marks & Spencer om inkopies te doen, maar was stom van verbasing toe sy die totaal op haar kwitansie gesien het.

Die Telegraph berig Cymbre Barnes, van Londen, wou gou by M&S inloer op pad werk toe om kos vir die dag te koop, insluitend ʼn £1-tros piesangs. Sy het met Apple Pay by die kasregister betaal (waar daar nie enige beperking is op die bedrag wat jy betaal nie) en nie besef daar het ʼn groot fout ingesluip nie.

Barnes (28) sê ʼn kennisgewing het op haar telefoon verskyn wat wys dat sy £1 602 aan inkopies by M&S spandeer het. “Ek was haastig voor werk, so toe ek sommer vinnig die self-betaal-kasregister gebruik,” het sy aan die Telegraph gesê. “Ek moes twee keer kyk toe ek die skerm sien, maar teen daardie tyd was my kwitansie reeds gedruk. Dit was te laat.”

Barnes het met ʼn personeellid by die winkel gepraat, maar hulle het slegs gesê daar is ʼn fout met die kasregister en dit sal ʼn paar dae lank duur om te herstel. Hulle het voorgestel dat sy na ʼn ander tak gaan om die terugbetaling te kry.

Sy het uiteindelik 45 minute lank na die naaste Marks & Spencer gestap om haar geld terug te vra.

ʼn Woordvoerder vir Marks & Spencer het gesê dit was “ʼn geïsoleerde betalingsfout”. Hulle het om verskoning gevra aan die klant en vergoeding aangebied.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

3 Kommentare

jongste oudste gewildste
Pieter

Jy moet maar altyd op jou hoede wees by die til. Dikwels is aanbiedinge in die winkel se prys hoër by die til en as jy dit uitwys kos dit jou tyd vir die wag en regmaak. Kom neer op bedrog maar is ok, maar as ek iets uit die winkel vat sonder om te betaal is die gereg op my.

Sandra

Ek is nou nie perfek nie, maar ek kyk as hulle oplui, en as ek nie kyk nie, bestudeer ek my slippie in my kar voor ek ry. Ek weet mens moet die slippie deurgaan. Nou wonder ek, hoeveel mense het Marks en Spencer se “geisoleerde betalingsfout” geraak dat hulle dit nie agtergekom het nie. Ek het al by Pick en Pay op dieselfde dag ‘n R1 meer vir 2 items betaal. Toe vra ek vir hulle, hoeveel mense het nie al klaar daardie R1 ekstra betaal sonder dat hulle dit agtergekom, en teruggekom het om die geld te eis… Lees meer »

Susan

Ja sulke goed gebeur. Laat my dink aan Tolla se grappie oor die R35 komkommer. :-)