Vrou bind haarself vas om stokkies te draai

Argieffoto

‘n Jong sakevrou van Tokyo in Japan het haarself by die huis vasgebind, aangesien sy nie werk toe wou gaan nie.

Die vrou, ongeveer 23 jaar oud, se hande en bene was met gordels en toue vasgebind toe die verhuurder haar Maandag in haar woonstel aangetref het, het die Sankei Shimbun-koerant gesê. Die vrou se suster het glo met die verhuurder in verbinding getree toe sy niks van haar gehoor het nie. Sy was andersins ongedeerd. Die eienaar het die polisie en ‘n ambulans ontbied, aangesien hy bekommerd was dat die vrou ‘n slagoffer van ‘n erge huisbraak was.

Speurders het egter agterdogtig geword oor die jong huurder se storie toe hulle nie enige bewyse van ‘n inbraak kon opspoor nie. Tydens ondervraging het die vrou begin huil en erken dat niemand anders betrokke was nie. “Ek wou nie werk toe gaan nie, so ek het dit gedoen as ‘n verskoning vir afwesigheid sonder kennisgewing,” het sy aan die beamptes gesê.

Die polisie het ‘n waarskuwing uitgereik en glo besluit om nie klagtes teen die vrou te lê nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.