Vrou klim toe saam met handsak in X-straalmasjien

Skermgreep uit die video deur Pear TV

ʼn Vrou van China was só bekommerd dat iemand haar handsak sou steel, dat sy toe agterna in die X-straalmasjien geklim het.

Personeel by Dongguan-treinstasie in die suide van China was verras om die silhoeët van ʼn vrou op die X-straalmonitor te sien.

Volgens ʼn video wat op sosiale media versprei word, het die voorval Sondag plaasgevind. Die vrou is een van nagenoeg 390 miljoen mense wat vir die Chinese Nuwejaar (16 Februarie) per trein huis toe reis.

Die video wys hoe die vrou handeviervoet, nog met haar hoëhakskoene aan, agter haar bagasie deur die X-straalmasjien ry. Die vrou het daarna van die rolband afgeklim, haar bagasie nagegaan en weggestap.

Dis nie duidelik waarom die vrou so angstig was oor haar handsak nie, maar talle persone in China reis met groot bedrae kontant as hulle huis toe gaan vir die Chinese Nuwejaar, berig Yangcheng Evening News.

Die vrou het vroeër net haar tas op die rolband geplaas en wou met haar handsak deur die sekuriteitskandeerder stap, maar toe veiligheidsbeamptes haar voorkeer, het sy in die X-straalmasjien geklim.

Die veiligheidswag het begin lag van verbasing toe die vrou aan die ander kant uitkom.

Spoorwegpersoneel het intussen passasiers gemaan om nie in die X-straalmasjien te klim nie, omdat radiasie gevaarlik kan wees, berig plaaslike media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Sune van Heerden ·

Dagsê Johann

Dankie vir jou terugvoer.
“Radiasie” is ‘n aanvaarde Afrikaanse woord en sinoniem vir “bestraling”.

Dankie!
Groetnis
Suné
nms Maroela Media

Fanie ·

Radiasie mag miskien aanvaarde Afrikaanse woord wees – so in die selfde lyn pavement – (pa – ve -ment) – maar of dit aanvaarbare Afrikaans is , dit is te betwyfel.

De Villiers ·

Ek stem saam, Johann. Bestraling is die beter Afrikaanse woord. Dis omdat Afrikaanssprekendes al meer anglisistiese woorde gebruik dat dit later aanvaar en ‘erken’ word terwyl daar eintlik ‘n pragtige Afrikaanse woord daarvoor is.

Eish ·

Eish!
Geen wonder nie, kyk hoe vol is die handsak! Van n kopspeld tot n oorlogskip!

Justice ·

Ek het dit laas op Waterkloof LMB gesien toe ons op pad grens toe was – ons het eers na die tyd van bestraling en dat dit jou steriel kan maak gehoor. Ek hoop en vertrou dat daardie troep vandag `n trotse pa of oupa is.

Kosie Kramer ·

Ek is met `n hartprobleem gebore. Daar is al soveel x-strale van my geneem, as ek wegraak hoef my familie net `n geigerteller te gebruik om my op te spoor.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.