Vrou verbeter Drew Barrymore se pruikrekord

Drew Barrymore en Jimmy Fallon (Skermgreep uit die video)

ʼn Vrou van Australië het ʼn Guinness-wêreldrekord ontvang vir die wêreld se breedste pruik.

Kunstenaar Dani Reynolds is nou die rekordhouer met haar pruik van 2,58 meter breed. Die pruik, wat van valshare gemaak is, spog met twee yslike groot pienk strikke daarop.

Volgens Guinness-wêreldrekords is die Reynolds geïnspireer deur Hollywood-aktrise Drew Barrymore wat met ʼn pruik van ongeveer 2,23 meter breed op die Tonight Show With Jimmy Fallon verskyn het (sien video onderaan die berig). Barrymore het ʼn rekord vir dié pruik ontvang, maar Reynolds wou dit oortref.

Guinness het ʼn video van Reynolds op Instagram gedeel met ʼn pruik van 2,58 meter breed.

ʼn Struktuur en ontwerp is gemaak van die pruik voor Reynolds ʼn plaaslike kunstenaar, Meg Wilson, betrek het om ʼn laag materiaal te maak, die valshare daaraan vas te werk en die twee groot strikke te maak.

“Ek het nie ʼn agtergrond in strukturele ingenieurswese nie en ek weet ook nie hoe om groot rekwisiete te maak nie. Dit was nogal moeilik!” het Reynolds aan Guinness-wêreldrekords gesê. “Onthou dat Drew Barrymore ʼn groep New Yorkse rekwisiet- en kostuummakers tot haar beskikking gehad het om die pruik vir haar te maak. Al wat sy eintlik moes doen, is om dit te dra. Ek probeer eintlik net sê, ek en Meg het self hierdie gemaak.”

Dani Reynolds met haar pruik (Foto: Guinness-wêreldrekords)

Sy sê die grootste uitdaging was om seker te maak dat die pruik ʼn perfekte balans sou hê. Die twee het ongeveer twee maande lank spandeer om die pruik te maak. Al die materiaal het haar sowat AUD4 000 (byna R50 000) uit die sak gejaag.

Die pruik is vir die eerste keer by die Studios: 2022-uitstalling by ACE-galery uitgestal. Dit is een van Adelaide se grootste galerye vir kontemporêre kuns. Die ondersteunende struktuur is gemaak van ʼn valhelm, PVC-pype, swembadwurms, kabelbinders en aluminiumstawe.

Sosialemediagebruikers het die video baie geniet. “Dis een manier om sosiale distansiëring toe te pas!” skerts een persoon. “Dís waarheen almal se gesnyde hare heen gaan,” skryf nog iemand. “Wat ʼn tyd om te leef!” is nog iemand se kommentaar.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.