Vrou wil haarknippie vir ʼn huis verruil – sy het reeds ʼn kar gekry

Demi Skipper

Met haar uitruilskema beplan Demi Skipper, van San Francisco in die VSA, om uiteindelik ʼn huis te ontvang – nadat sy met slegs ʼn haarknippie begin het.

Demi (29) het die haarknippie aanvanklik verruil vir ʼn paar oorbelle en dit verruil vir ʼn stel margarita-glase. Die glase is vir ʼn stofsuier verruil.

Haar projek, om ʼn haarknippie vir ʼn huis te verruil, het tydens die afsonderingsperiode weens die Covid-19-pandemie reeds meer as 3,5 miljoen wêreldwye volgelinge op TikTok gelok.

Demi het ook al verskeie paar seilskoene en ʼn iPhone in haar besit gehad sedert haar “Trade Me Project” twee maande gelede begin het.

Die stofsuier is vir ʼn sneeuplank verruil en ʼn iPhone II Pro Max vir ʼn Dodge Ram-motor.

Onder die “reëls” van die uitdaging mag sy nie kontant gebruik nie en ook nie enigiets ruil met iemand wat sy ken nie.

Demi Skipper

Sky News berig Demi stuur sowat ʼn duisend boodskappe elke oggend en laataand uit. “Mens moet taai wees om dit te doen en weet dat jy besig is met iets vreemd. Mense het al gesê ek is die malste mens wat hulle ooit teëgekom het en ander sê dit is die domste ding waarvan hulle nog ooit gehoor het.”

Sy is geïnspireer ná ʼn video van Kyle MacDonald wat tussen 2005 en 2006 met 14 ruiltransaksies uiteindelik ʼn rooi papierknippie vir ʼn huis verruil het. (Sien die video van Kyle se transaksies onderaan hierdie berig.)

Demi se projek is byna tot stilstand gedwing ná die motor onklaar geraak het net nadat dit oor die VSA heen gery is om afgelewer te word. Sy moes dit uiteindelik verruil vir ʼn elektriese skaatsplank ter waarde van $2 000 (byna R33 000).

Sy het gesê sy tref voorsorgmaatreëls om seker te maak sy is veilig wanneer sy handelaars deur die internet ontmoet, maar die mense met wie sy al te doen gehad het, was “baie oop en vriendelik”.

Volg Demi op Twitter en TikTok

Kyk hoe Kyle MacDonald dit reggekry het:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Patch ·

Martin Bester van Jakaranda FM se oggendprogram het iets soortgelyks begin van die jaar aangepak. Hy het begin met ‘n “funky” lamp, geruil vir ‘n oefenfiets, geruil vir ‘n gazebo, geruil vir ‘n stootwaentjie en baba karsitplek, geruil vir ‘n 50″ Smart TV, geruil vir ‘n 10 dag vakansie in Sedgefield, geruil vir ‘n kajuitboot. Ek het daarna uitgesien om elke oggend te hoor wat hy volgende kon kry…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.