Vrou word 100, maar vier vandag eers 25ste verjaarsdag

Mary Lea Forsythe (Foto: Centenarians of Oklahoma/Facebook)

Mary Lea Forsythe is op 29 Februarie 1924 gebore – ʼn skrikkeldag.

Aangesien skrikkeljare slegs elke vier jaar gebeur, vier sy dus vandag slegs haar 25ste verjaarsdag.

Die vieringe het vroeg begin toe die Sand Springs-gemeenskap in Oklahoma bymekaargekom het om haar verjaarsdag te vier. Sy het intussen ook deel geword van die Centenarians of Oklahoma-klub. Dié niewinsgerigte organisasie vereer mense wat 100 jaar en ouer word.

Forsythe sê haar verjaarsdag elke vier jaar is ʼn spesiale geleentheid. “Ek het altyd gedink ek is baie geseënd,” het sy aan ABC News gesê. “Dit was altyd baie prettig. Ek kon dit vier wanneer ek wou.”

Sy het soms, wanneer dit nie skrikkeljaar is nie, haar verjaarsdag op die dae rondom haar verjaarsdag gevier – soms ook op haar oorlede man se verjaarsdag, wat 6 Maart was.

Sy is gebore en getoë in Sand Springs. Haar passies sluit musiek en die Bybel in. Haar man, met wie sy in 1942 getrou het tot en met sy afsterwe in 2011, was haar hoërskoolliefde.

Sy het ʼn boekie gepubliseer, You are Fantastic, oor die mens se verhouding met God.

Volgens Sand Springs Leader het sy ses maande gelede omstreeks 02:00 die oggend wakker geword en die boekie, met sowat 40 bladsye, in ʼn paar uur geskryf.

Forsythe het op skool in die koor gesing. Haar gunstelingliedjie was “Sitting at the Feet of Jesus”.

n Spesiale verjaarsdagkoek vir Mary Lea (Foto: Centenarians of Oklahoma/Facebook)

“Mary Lea herinner ons almal om die Bybel te lees,” het die Centenarians of Oklahoma-organisasie gesê.

Forsythe is ʼn ma van twee, ouma van vyf en oumagrootjie van 11. Haar tannie het 107 jaar oud geword. “Ek gaan haar verbysteek,” het sy gesê.

Sy vier vandag haar verjaarsdag by haar plaaslike gemeente waar ʼn groot byeenkoms gereël word. Sy het net een reël gehad: “Geen geskenke nie, asseblief. Ek wil nie enigiets moet bêre nie.”

Volgens History.com vier slegs 5 miljoen mense wêreldwyd hul verjaarsdag op skrikkeldag.

Mary Lea Forsythe of Sand Springs was honored for her 100th birthday coming up on February 29 by the DAR Osage Hills…

Posted by Centenarians of Oklahoma on Thursday, February 15, 2024

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Miena ·

Wat n goeie ouderdom mylpaal behaal in die lewe. Baie geluk tannie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.