Wally swem 4 000 km tot in Ysland

Wally (Foto: Náttúrustofa Suðausturlands/Facebook)

Een van die bekendste walrusse in die wêreld, Wally, is opgespoor. Toe hy meer as 22 dae vermis was, is daar gevrees dat hy dalk iets oorgekom het.

Die seesoogdier, wat sowat 800 kg weeg, is Sondag in Ysland opgemerk. ʼn Video wat op Facebook gedeel is, wys hoe die walrus in die water teruggly.

Wally is laas gesien by Seal Rescue Ireland, sowat 900 km van Ysland. Hy word as ʼn nomadiese walrus beskryf, weens sy unieke kwaliteit om die wêreld te besoek voor hy na sy tuiste in die Arktiese gebied terugkeer.

Die Twitter-rekening Seal Rescue Ireland het ʼn plasing gedeel: “Ná 22 dae sonder dat Wally opgemerk is, het ons moed verloor dat ons hom ooit weer sou sien. Ons het egter pas ʼn kennisgewing ontvang dat ʼn soortgelyke walrus gister in Ysland opgemerk is.”

Die walrus het in die somer na Frankryk, Spanje en die Scilly-eilande getoer, soos berig in die Dailymail UK. Die Britse duikers Marine Life het bevestig dit is inderdaad Wally nadat hulle foto’s en littekens bestudeer het.

Wally het nagenoeg 4 000 km geswem om by Ierland uit te kom, berig die BBC. Hy het meer as 900 km van West Cork gereis.

ʼn Fotograaf en safarigids genaamd Nathaniel Barry het die walrus Wally gedoop. Hy het aanvanklik ná ʼn vlugtige kykie gedink dit is ʼn rob, maar het later besef dit is ʼn walrus.

Owerhede in Pembrokeshire meen die toeriste en branderplankryers is daarvoor verantwoordelik dat Wally gereeld van sy ysige woning af wegbeweeg.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Snowball ·

Wally is ‘n walrus met wanderlust. Wally is te dierbaar vir woorde, ek hoop hy het nog vele reise wat voorlê.

Misky ·

Wally is nie net enige walrus nie, hy is ‘n model en lyk kompleet of hy poseer vir die fotograaf. Te dierbaar!!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.