Ware liefde lê in die klein goedjies

Foto: Love Always, Heather/Facebook

Ons moet almal soms daaraan herinner word dat jy nie jou liefde hoef te bewys met iets groot, duur of buitensporig nie – dit lê soms net in die klein dingetjies.

Heather Delaney, wat ʼn webjoernaal skryf oor die liefde, se plasing oor haar man wat sy liefde vir haar in die klein dingetjies bewys, word wyd op sosiale media versprei.

Sy sê sy het baie tyd gemors om “al die maniere te soek hoe liefde in flieks, tydskrifte en op advertensies uitgebeeld word” – bosse blomme, bokse sjokolade, ʼn onverwagse vakansie na ʼn eksotiese eiland … Sy was dus gereeld teleurgesteld wanneer haar man nie op só manier romanties is nie.

“Ek was op soek na die dinge wat ek aangesê is hoe hy sy liefde sou betoon, in plaas daarvan om aandag te skenk aan dit wat hy wel doen,” skryf Delaney.

Hy koop dalk nie gereeld vir haar blomme nie, maar hy bel haar elke dag sodra ná werk om te hoor of hy iets moet huis toe bring. “Hy bring dalk nie sjokolade huis toe nie, maar wanneer hy enigiets sien wat plantgebaseerd of organies is, dan bring hy sy vonds huis toe.”

Hy dek dalk nie die eetkamertafel met kerse en gourmet-disse nie, maar hy staan elke Sondagoggend op om koffie te maak en bedien dit in haar gunstelingbeker.

Hy was die skottelgoed, hy het “al Sleepless in Seattle gekyk al wou hy eintlik Jason Bourne sien”. “Hy het al in die middel van die nag opgestaan om na die huilende baba om te sien, of gaan koop vroueprodukte in die apteek. Hy ruil sy bord met my as hy iets in ʼn restaurant bestel het wat ek eerder wou hê.”

En soos die foto bewys, “hy stoot altyd die winkelwaentjie”. “Hy sluit dadelik die deure oop sodat ek [in die motor] kan inklim, en laai dan self die inkopies.”

Sy sê dit het haar jare lank geneem voor sy waardeer het om só liefgehê te word, maar toe sy uiteindelik besef dat liefde eintlik só lyk, het hul verhouding verander.

Buitendien, die blomme en die sjokolade en die vakansies is net tydelik. “Dis die oomblikke waarop jy vir altyd kan staat maak, waar jy liefde sal vind. Die goeie liefde. Die ewige liefde.”

Sy moedig vroue aan om “iemand te soek wat altyd die winkelwaentjie sal stoot – want dis waar die ewige liefde lê”.

He always pushes the grocery cart. (and when we get back to the truck, he always unlocks the doors immediately so that…

Posted by Love Always, Heather on Sunday, October 13, 2019

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.