ʼn Vreemde verrottende kreatuur uit die see het aan ʼn kus in die VSA uitgespoel. Foto’s van die vis is op Reddit deur die gebruiker Kristine Tillotson gedeel.
Die vis, met skerp tande, lê op die rotse. Dit wil voorkom of die vis reeds begin ontbind het.
Tillotson het haar na sosiale media gewend om uit te vind watter spesie dit moontlik kan wees. Sy het by Millstrand in Brookings, Oregon, op die vis afgekom.
Haar plasing het opslae gemaak. Verskeie gebruikers het kommentaar gelewer en gewonder wat dit moontlik kan wees. Een gebruiker skryf: “Ek dink mens noem dit ʼn Aaaaagh!!”
Nog ʼn gebruiker het gewonder of dit dalk ʼn seewolf kan wees, ʼn spesie wat in die noordelike Stille Oseaan voorkom. ʼn Derde gebruiker het egter gesê die tande is nie groot genoeg vir ʼn seewolf nie.
Volgens Newsweek het Tillotson laat weet ʼn groep marinebioloë het saamgestem dat die vreemde kreatuur ʼn tipe paling is, genaamd “aapgesig stekelrug” (Cebidichthys violaceus). “Ek was opgewonde en verward toe ek dit gesien het. Ek is dol daaroor om op die strand te loop en te kyk wat uitgespoel het – of dit nou diere of skulpe is. Ek het gedink dis uiters interessant, want dit lyk nie soos enigiets wat ek al vantevore gesien het nie. Dit het gelyk soos iets uit die diep see.”
Die Cebidichthys violaceus is inheems aan die Stille Oseaankus van Noord-Amerika. Hulle word aangetref in rotsriwwe van Oregon tot by Baja Kalifornië en Mexiko. Dit word ʼn “aapgesig-paling” genoem weens die ongewone voorkoms – lewendige visse het ʼn groot homp op die kop wat soos ʼn aap se neus lyk.
Die vis se naam meng landdiere en visse. Wat ‘n teenstrydigheid. Wonder of die vissie weens die naam op droë grond kan oorleef. Net sy ma sal so ‘n vissie kan liefhê.