Weggooihond ‘snuffel’ vir hom nuwe tuiste uit

Abbey en Ted. Foto: Abbey Boyd/CBCNews

Abbey en Ted.
Foto: Abbey Boyd/CBCNews

Ted, ʼn Duitse herdershond, het uit ʼn sorgsentrum vir diere in Yellowknife, Kanada, ontsnap op soek na een van die sentrum se werkers wat hom vroeër met peuselhappies bederf het.

Die hond het sowat 5 km ver deur ʼn nywerheidsgebied geloop voordat hy homself op die werker, Abbey Boyd, se stoep tuisgemaak het. Ted het verlede maand by die dierebeskermingsvereniging (DBV) opgedaag en was baie skugter – totdat Boyd haar oor hom ontferm het.

Volgens CBCNews was Boyd aan diens die dag nadat Ted by die sentrum ingeneem is. “Eers wou hy niks van my weet nie, maar toe voer ek hom ʼn paar stukkies spek. Ek het ook een van die ander werkers gevra om vir Ted ʼn groter hok te bou.”

Toe Boyd die naweek daarna tuis kom ná werk by die plaaslike lughawe, sien sy vir Ted op haar stoep sit. “Ek was eers bang om nader te gaan, maar ek het moed bymekaar geskraap en vorentoe gestap. Dit is toe dat ek Ted herken.” Boyd het die DBV gebel en uitgevind dat Ted nie in sy hok is nie.

“Dit is die wonderlikste ding wat nóg gebeur het,” vertel Boyd.

Hoe Ted daarin geslaag het om Boyd op te spoor is onduidelik. “Dit maak regtig nie sin nie: Die feit dat hy my uit al die reuke gekies het en gevind het.”

Ná die naweek wat Ted by Boyd se huis opgedaag het, het sy nog twee keer met hom gaan stap.

Sy beplan om na ʼn ander huis te verhuis sodat sy Ted kan aanneem. “Hy bly die heeltyd naby aan my,” sê sy.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Denise ·

Abbey jy is baie gelukkig Ted is nou joune en al wat hy vra is kos, water en al jou liefde!!!! Pragtige hond en hy het jou uitgesuffel ongelooflik !!!

Theresa B ·

Daar is ‘n goeie rede hoekom Ted jou gekies het Abbey. Dis awesome. Wees lief vir hom. Hy sal jou mooi oppas. Al wat hulle tog net wil hê is liefde, kos en aandag.

Anton ·

…pragtig…liefde met die eertse-reukopslag…kan my swaer nie maar vir my skoonma ook n stukkie spek en sy reuk kom gee sodat sy vir n slag na hom kan gaan soek en daar gaan bly nie… lol

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.