Wêreld se grootste laaikas te koop – sokkies ingesluit!

Die wêreld se grootste laaikas (Foto: AllenTate.com)

Een van Noord-Carolina in Amerika se vreemdste toeriste-aantreklikhede word te koop aangebied: die wêreld se grootste laaikas.

Die laaikas is drie en ʼn half verdiepings (10 meter) hoog en is ʼn replika van ʼn 19de eeuse laaikas wat gebou is as ʼn huldeblyk aan High Point, die dorp waar dit geleë is, se meubel- en kousbedryf. Dit is eintlik ʼn kantoorgebou en jy kan dit vir $235 000 (ongeveer R2,8 miljoen) aanskaf. Die makelaar, Carol Milligan, besit ook die gebou saam met haar man, Mark. Die bedrag sluit die kantoorspasie agter die laaikas en twee bykomende persele in.

“Besit die Wêreld se Grootse Laaikas!” lui Milligan se advertensie op AllenTate.com. “ʼn Bekende gesig in High Point. Groot beleggingsgeleentheid.”

Die gebou het ʼn nuwe dak met nuwe lugreëling – indien dinge dalk te warm (of koud!) sou word in jou laaie.

Die laaikas is ook vyfde op die lys van “Ten of the World’s Biggest Roadside Attractions”. Dit word ook genoem op die webwerf RoadsideAmerica.com, wat aandui dat die laaikas in die 1920’s opgerig is deur High Point se Kamer van Koophandel.

Die sokkies is elk 1,8 meter lank, volgens UNC se DocSouth-webwerf.

Een van die verdiepings is in die “laaikas” met ʼn 726 vierkante meter gebou aan die agterkant. Die perseel is oor die jare heen reeds gebruik as ʼn vertoonlokaal, vergaderingsplek, partytjie-venue en selfs stoorplek, volgens ʼn artikel in Triad Business Journal.

Dis nog nie seker wat met die laaikas gaan gebeur nie, maar Milligan het aan media gesê een voornemende koper het aangedui hy wil dalk ʼn koffiewinkel oopmaak. ʼn Ander wil graag in die laaikas woon.

Die egpaar het die perseel in 2015 vir $90 000 (R1,07 miljoen) gekoop.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.