Wêreld se oudste kat en panda oorlede

Basi op haar 35ste verjaarsdag. Sy is die afgelope week op die ouderdom van 37 oorlede. (Foto: Chinatopix, AP)

In die afgelope maand het twee van die wêreld se oudste diere, ʼn reusepanda van China en ʼn kat van Engeland, hulle laaste asem uitgeblaas.

Basi, die wêreld se oudste panda, is die afgelope week in die ouderdom van 37, meer as 100 mensejare, dood. Basi is aan nierversaking en lewersirrose dood en het geen nasate agtergelaat nie.

“Ons is tans besig om ʼn museum vir Basi op te rig waar sy liggaam bewaar sal word,” het Chen Yucun, die direkteur van die navorsingsentrum waar dié panda dood is, gesê.

Basi het verskeie siektes oorleef – alles te danke aan Shi Feining wat Basi se toegewyde versorger was vir 27 jaar. Feining is in 2016 oorlede.

Basi is in 1980 in die wildernis gebore, maar sy het op die ouderdom van vier in ʼn ysige rivier geval en is deur plaaslike inwoners van Basi Gorge gered, waarna sy vernoem is. Basi is ná die voorval by die Panda-navorsingsentrum versorg tot haar dood.

Nutmeg op sy 31ste verjaarsdag. Hy is drie weke gelede op die ouderdom van 32 oorlede. (Foto: Facebook)

Die wêreld se oudste kat het ook onlangs sy laaste asem uitgeblaas. Dié kat, genaamd Nutmeg, was 32 jaar, oftewel 144 mensejare, oud en het saam met die Finley-egpaar in Gateshead in Engeland gebly.

Nutmeg is aan hartversaking dood. Liz en Ian Finley, die paartjie aan wie die kat behoort het, is inderhaas met Nutmeg na die veearts toe nadat hy asemhalingsprobleme getoon het.

Die paartjie het vir 27 jaar vir die kat gesorg. “Ons het vir ʼn week gaan vakansie hou ná die afsterwe van Nutmeg, maar dit het nie regtig gehelp om die pyn te verlig nie,” sê Ian Finley. “Daar is ʼn groot leemte in ons lewe.”

Die Finley-egpaar het Nutmeg in 1990 in hulle tuin gevind, waarna hulle dié kat aangeneem het. Die plaaslike veearts het destyds geskat dat Nutmeg ongeveer vyf jaar oud moet wees.

“Nutmeg was in ʼn baie slegte toestand toe ons haar in ons tuin gevind het.” Daar was ʼn swelsel in haar nek. Nutmeg het selfs in 2015 ʼn ingrypende operasie ná ʼn beroerte oorleef.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Helene ·

Rus sag julle twee pragtige dierekinders. ‘n Geseënde ouderdom bereik!!

vrikie ·

Ons kat Chucky lyk op ‘n haar soos Nutmeg, hy is al 14 jaar oud en is nog net so lewendig soos van dag een. Ons gaan hom nou in ons testament sit sodat die kinders hom kan erf

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.