Wêreldrekord vir grootste orkes opgestel

Musikante neem deel aan die wêreldrekordpoging in Caracas (13 November 2021) (Foto: Federico Parra/AFP)

Venezuela het Saterdag ʼn Guinness-wêreldrekord ontvang vir die wêreld se grootste orkes ná duisende musikante Tsjaikofski se “Slawiese Mars” uitgevoer het.

Die musikante is deur Venezuela se “El Sistema”-program bymekaar gebring – ʼn staatsgefinansierde projek wat in 1975 van stapel gestuur is om opleiding in klassieke musiek aan duisende werkersklas kinders te verseker.

Dirigent Gustavo Dudamel, musiekdirekteur van die Parys-Opera en die Los Angeles filharmoniese orkes, is een van die bekendste alumni van dié program.

“Ek kan bevestig dat hierdie poging suksesvol was. Baie geluk!” het ʼn beampte tydens ʼn seremonie by die El Sistema-hoofkantoor gesê. “Julle is amptelik ongelooflik.”

Sowat 12 000 musikante, insluitend kinders en volwassenes wat lede is van die land se hooforkes, die Simon Bolivar, het op 13 November aan die rekordpoging deelgeneem.

Guinness-wêreldrekords het uiteindelik slegs 8 573 van hulle erken as deel van die rekord, volgens ʼn sertifikaat wat deur die organisasie uitgereik is.

Sowat 260 ouditeurs van die rekenkundige maatskappy KPMG het die uitvoering dopgehou om seker te maak dat alle musikante voldoen aan die reëls om die rekord te verbeter. Van dié reëls sluit in dat hulle nie instrumente mag deel nie en dat hulle ten minste vyf minute lank moet speel.

“Dit is ʼn wonderlike prestasie. Nie net vir El Sistema nie, maar vir ons land,” het programdirekteur Eduardo Mendez bygevoeg.

Rusland het die vorige rekord gehou. Meer as 8 000 musikante was in dié uitvoering betrokke.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.