Wêreldrekord vir meeste tweelinge in een graad in dié hoërskool

Foto: New Trier High School, Illinois

New Trier High School in Winnetka, sowat 25 km buite Chicago, Illinois, het ʼn Guinness-wêreldrekord ingepalm: meeste tweelinge in een akademiese jaar by een skool.

Die skool spog met 44 stelle tweelinge en een drieling. Die 16-jarige leerders verbeter die vorige rekord van 24 stelle tweelinge van Highcrest Middle School in Wilmette, Illinois – een van New Trier se voerskole.

Dieselfde stelle tweelinge wat die aanvanklike rekord ontdek het, Luke en Ryan Novosel, het hul medeskoliere by New Trier aangemoedig om weer aansoek te doen. Die Novosels het verlede jaar reeds die vereiste dokumentasie van deelnemende gesinne bekom en moes byna ʼn jaar lank wag voor Guinness die rekord amptelik bevestig het.

“Dis nou nie ʼn aardskuddende prestasie nie, maar dis nogal cool om ʼn tweeling te hê wat mens altyd ondersteun, en om omring te wees deur ander [tweelinge] by die skool,” het Luke en Ryan verduidelik.

In ʼn groep van net meer as 1 000 leerlinge is die 91 tweelinge byna drie keer meer as die nasionale gemiddeld van tweelinge. Slegs drie pare tweelinge is identies (almal meisies) en die drieling is ook sussies. Daar is 19 stelle sussies en 11 stelle boeties (die res is boetie/sussie).

Twee stelle tweelinge is op verskillende dae gebore en twee gesinne het elkeen twee tweelinge.

Tweelinggeboortes het in 2014 ʼn rekordgetal gehaal toe gemiddeld een uit elke 30 babas ʼn tweeling was. Wetenskaplikes sê ʼn ma se ouderdom, opvoeding, welstand en vrugbaarheidbehandeling dra alles by tot ʼn moontlikheid vir tweelinge.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Petrp ·

Ek is seker daar is iets in die drinkwater in daardie dorp :-)

Nou moet hulle net klas kry by tweeling onderwysers ook.

Suné ·

Die hoeveelheid groeihormone en steroids wat in ons diere gepomp word om gouer vleis te lewer het al in SA ook vir die afgelope 10 jaar reeds drastiese gevolge. Self groente en vrugte is niks werd as jy nie organies gaan nie en dan is dit baie duur. Kinders bereik puberteit gouer ens ens en al is dit nog nie bewys nie, kyk na die hoeveelheid soorte kankers wat deesdae aan die orde van die dag is. Ja daar was kanker voorheen, maar nie in so ‘n groot mate soos vandag nie.

Nettie ·

@Suné – wat het groeihormone in vleis, kinders wat vroeër puberteit bereik en organiese/nie-organiese groente en vrugte met die voorkoms van meer en meer stelle tweelinge in een bepaalde dorp/stad en een bepaalde skool in die VSA te doen?

T ·

Defnitief iets in daardie dorp se drinkwater, daarom al die dubbeldore.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.