Wêreldrekord vir ʼn piepklein hondjie

Pearl langs ‘n TV-afstandbeheerder (Foto: Guinness-wêreldrekords)

ʼn Tweejarige Chihuahua genaamd Pearl is die wêreld se kortste lewende hond, aldus Guinness-wêreldrekords.

Pearl is op 1 September 2020 gebore en is 9,14 cm hoog en 12,7 cm lank. Sy weeg 553 gram.

Sy is korter as ʼn roomysstokkie, kleiner as ʼn TV-afstandbeheerder en byna so lank soos ʼn dollarnoot.

“Ontmoet die kortste hond in die wêreld, Pearl,” het Guinness op 10 April op Twitter geskryf.

Pearl is die dogter van Miracle Milly se tweelingsussie, wat vroeër die rekordhouer was. Miracle Milly is in 2011 gebore en was 9,65 cm hoog. Sy het in 2020 heengegaan.

Pearl het onlangs saam met haar eienaar Vanesa Semler op die Italiaanse televisieprogram Lo Show Dei Record verskyn.

Semler het haar in ʼn Paaseiervormige sitplek op die stel gedra onder ʼn luide applous.

Volgens Semler het Pearl ʼn kalm geaardheid vir ʼn Chihuahua en sy was nie angstig om voor die regstreekse gehoor te verskyn nie.

Pearl langs ‘n skoen (Foto: Guinness-wêreldrekords)

Sy het aan die program se aanbieder, Gerry Scotti, gesê Pearl is wel “ʼn bietjie van ʼn diva”. Pearl eet graag kos van hoë gehalte soos hoender en salm en hou daarvan “om mooi aan te trek”.

Pearl is drie afsonderlike kere by die Crystal Creek-dierehospitaal in Orlando gemeet, waar sy gebore is.

“Ons is geseënd om haar te hê en om hierdie unieke geleentheid te hê om ons eie rekord te verbeter en die wonderlike nuus met die wêreld te deel,” het Semler aan Guinness-wêreldrekords gesê.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Monique ·

Ek sal te bang wees om op haar perongeluk te trap. Hulle is mos altyd onder mens se voete verral in die kombuis.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.