Wêreldrekord vir Zeus, die Deense hond

Brittany Davis en Zeus (Foto: Guinness World Records)

Zeus, ʼn tweejarige grys-en-bruin Amerikaanse Deense hond van Bedford, Texas in die VSA het ʼn rekord vir homself ingepalm.

Op 1,046 meter is dié sagmoedige reus bevestig as die langste lewende hond (reun) in die wêreld. Sy eienaar, Brittany Davis, het al van kleins af gedroom daarvan om een dag ʼn groot Deense hond te besit. Gelukkig het haar broer Garrett ʼn kollega wat met hulle teel.

Brittany was aanvanklik bekommerd om só groot hond in die huis te hê, maar dit was liefde met die eerste oogopslag. Hy was die grootste hondjie in sy werpsel.

Sy sê Zeus verkies ʼn rustige benadering tot die lewe. Hy stap graag in die buurt rond met sy mense-boetie, slaap by die venster en loop rond by die plaaslike boeremarkte.

Brittany is al gewoond daaraan dat mense na hom staar wanneer hulle hom in die publiek sien. “Ons hoor gereeld, ‘Wow! Dis ʼn perd! Kan ek op hom ry? Het hy ʼn saal?’ Die antwoorde is natuurlik alles ‘nee’.”

Zeus is gewoonlik baie goed gemanierd, maar sy avonture beteken dat hy soms in die moeilikheid beland, en omdat hy so groot is, beteken dit hy kom in groot moeilikheid … “Hy steel graag die baba se fopspeen en enige kos wat op toonbanke gelos word, is beslis binne sy bereik. Sy waterbak is ʼn wasbak en hy spring graag op die heining om met die bure se honde te gesels.”

Brittany sê dit is baie duur om dié reus te voer en waarsku enigiemand wat ook graag ʼn groot hond wil hê om bereid te wees om baie op te dok vir kos.

Hy geniet ses koppies “Gentle Giants”-hondekos in die oggend en nog ses in die middag. Hy geniet ook soms ʼn gebraaide eier, vleisstokkies of sy gunsteling: ysblokkies.

Die veearts is baie beïndruk met Zeus se gesondheid. “Hy is dol daaroor om veearts toe te gaan, hy kry altyd baie aandag.”

Die gesin het by ʼn familiebyeenkoms besluit om Guinness-wêreldrekords te kontak omdat hulle gedink het hy is waarskynlik langer as die voormalige langste hond. “Toe ons hom meet, het ons vermoed hy is waarskynlik langer. Dit was egter onverwags toe ons die nuus hoor. Ons het nooit gedink ons besit die grootste hond nie.”

Die vorige langste hond was toevallig ook ʼn groot Deense hond genaamd Zeus. Hy was van Otsego, Michigan in die VSA afkomstig en het behoort aan eienaars Kevin en Denise Doorlag. Hy het ongelukkig as ʼn vyfjarige in 2014 omgekom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Herman ·

Ek sal graag kafee toe wil stap met twee sulke “babatjies”

mynie ·

Ons het ook so n groot woef. So liefdevol. Altyd so bly as ek in die aand van die werk afkom. Maar ja, gaan stap met haar is buite die kwessie. Maar dol oor kar ry. Tog nie n kardeur ooplos met haar in die omtrek nie. Jy sal rondry totdat sy voel dis genoeg. Dan alleenlik kry jy haar uit die kar uit. Sy mamma se meisiekind, my Bella.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.