Wieletjiesblik byna 2 000 km verder in Oekraïne gevind

Skermskoot uit die video

ʼn Wieletjiesblik van die Test Valley Borough Council in Hampshire, Engeland, is ongeveer 1 900 km daarvandaan op die grens tussen Oekraïne en Pole gevind.

Philip Crowther, ʼn joernalis wat verslaggewing doen oor die konflik in Oekraïne het die asblik opgemerk en ʼn video daarvan op Twitter gedeel.

Hy het die asblik opgemerk toe hy Lwif verlaat het ná hy twee weke lank daar gewerk het, het die Hampshire Chronicle berig.

Die asblik is langs die pad in Hlynystsi opgemerk, net voor die grens na Pole. Dit word deur wagte by die grenspos gebruik.

“Hoe op aarde het een van julle wieletjiesblikke dit al die pad tot in Oekraïne gemaak, en wanneer word vullisverwydering gedoen?” het Crowther in ʼn twiet aan die raad geskerts.

TVBC, wat die dorpe Andover en Romsey dek, het teruggeskryf: “Haai Philip, umm, hmm. Ek het die notaboek nagegaan, maar dit lyk nie of ons ʼn standaard antwoord vir hierdie navraag het nie … Mag ons vra waar in Oekraïne dit is? Ek wil net seker maak die adres word by ons tweeweeklikse rondes bygevoeg en dat dit nie as vermis aangemeld word nie.”

Die raad het ʼn emotikon wat knipoog by die twiet bygevoeg.

“Dis goed om te sien dat ons asblikke so ver reis en om te hoor dat dit steeds bruikbaar is vir die grensposstasie tussen Oekraïne en Pole,” het Nick Adams-King, portefeuljebestuurder oor afval en herwinning by TVBC, bygevoeg. “Inwoners kan al vir ʼn paar jaar lank dié asblikke koop en teoreties is dit dus moontlik dat dit enige plek kan opeindig, selfs in die ooste van Europa. Alhoewel ons nie presies seker is hoe dié asblik daar beland het nie, is dit altyd interessant om te sien waar hulle opeindig; selfs al is vullisverwydering ʼn bietjie van ʼn uitdaging.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Annamarie ·

Volgende wat ons seker hoor ” wielie blikke word NET in Oekraine vervaardig” En siedaar klim die pryse!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.