Wie’s baas en wie’s die hond?

Belle (links) en Bears (Foto: bearsandbelle/Instagram)

Wanneer mens ʼn kat en ʼn hond in een huis het, verwag meeste eienaars dat hulle vir mekaar hul ruimte sal gee. Dié twee is egter beste maats.

Belle, ʼn Newfoundlander, en haar kattevriend Bears het ʼn hegte vriendskap ontwikkel in hul huis in Denver, Colorado in die VSA.

Die driejarige hond bied emosionele ondersteuning vir Bears – en vergesel hom selfs wanneer hy besoek by die veearts moet aflê.

Die twee se eienaar, Emily, het ʼn oulike video van die twee troeteldiere op haar Instagram gedeel wat wys hoe Belle vir Bears ondersteun wanneer hy sy inspuitings moet kry.

“Op pad met Mr Bears veearts toe vir ʼn paar inspuitings. Hy word baie angstig, so ons het Belle saamgebring,” skryf Emily. “Sy veearts versoek selfs dat sy saamkom na afsprake, omdat hy baie beter reageer wanneer sy kleiner sussie saam met hom is. Sy is nie net sy sussie nie – sy is sy emosionele ondersteuning.”

Emily het die twee se spesiale verhouding vir die eerste keer opgemerk toe Belle net agt weke oud was. Bears was dadelik dol oor sy nuwe sussie.

“Belle het altyd baie sagkens met Bears gewerk en Bears is nog altyd dapper en baie nuuskierig. Hy is gelukkig ʼn kat wat daarvan hou om buite te speel, so hulle is gewoonlik in ons erf en Bears kan maklik hasepad kies wanneer Belle te woes begin speel.”

Emily het egter nooit verwag dat die twee só goed oor die weg sou kom nie, as mens kyk na die stereotipiese verhouding tussen katte en honde.

“Bears het nie altyd van honde gehou nie, so ons was aanvanklik skrikkerig, maar hulle was dadelik dol oor mekaar. Dis asof hulle dadelik verstaan het dat hulle eintlik boetie en sussie is.”

Die twee het ʼn Instagram-blad genaamd bearsandbelle waar die eienaars byna 12 000 volgelinge op hoogte hou van die twee se dag-tot-dag lewe.

“Hierdie moet ʼn vollengte fliek word!” het een kyker geskryf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.