‘Wilde’ skaap net ʼn bol wol

Baarack voordat hy geskeer is. (Foto: Edgar’s Mission Farm Sanctuary/AFP)

ʼn Wilde skaap wat onlangs in ʼn woud noord van Melbourne in Australië gevind is, het ʼn welverdiende skeer ontvang nadat sy woljas vir vyf jaar buite beheer gegroei het.

Die afgeskeerde wol het altesaam 35 kg geweeg.

“Ek kon nie glo dat daar eintlik ʼn skaap onder al daardie wol was nie,” het Pam Ahern, stigter van Edgar’s Mission Farm Sanctuary wat die skaap gered het, aan Nine News gesê.

Die skaap, wat intussen Baarack gedoop is, is deur lede van die publiek opgemerk waarna die diereskuiling in Victoria in kennis gestel is. Volgens Ahern was sy vag erg gekoek en was hy ook ondergewig, maar sy hoewe was in ʼn goeie toestand danksy al die rotse wat hy in die wildernis moes trotseer, berig Hindustan Times.

Baarack nadat hy geskeer is. (Foto: Edgar’s Mission Farm Sanctuary/AFP)

Skape wat nie minstens een keer per jaar geskeer word nie sukkel dikwels om te loop as gevolg van die gewig van die wol. “Meeste van hulle lewe nie lank op hul eie nie, veral nie in Australië se warm en droë somers nie.”

Baarack was egter een van die gelukkiges. Hy het destyds moontlik van sy trop weggedwaal en nooit weer teruggekom nie, sê Ahern.

Ten spyte van Baarack se swaar wolopbrengs skiet hy net-net tekort om die wêreldrekord te ewenaar. Die rekord word tans deur sy landgenoot, Chris, gehou wat reeds in 2015 opslae gemaak het met sy woljas van 41 kg.

Baarack het ná sy skeer ʼn nuwe lus vir die lewe en het intussen ʼn TikTok-ster geword met miljoene mense wat wêreldwyd sy transformasie aanskou het. – AFP

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Eend Bessinger ·

Ek dink daardie skaap blêr “Dankie tog daardie jas is af!” nou.

Misky ·

Shame, dit moes vreeslik swaar en warm gewees het. Kan net dink hoe dankbaar is hy nou

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.