Wiskunde-probleem dalk ná 160 jaar opgelos

Sir Michael Atiyah (Foto: Skermgreep uit die video)

Die Britse wiskundige Sir Michael Atiyah voer aan hy het ʼn 160 jaar oue probleem opgelos – en hy kan $1 miljoen wen as hy reg is.

Die 89-jarige Atiyah, wat al die Fields Medal en die Abel Prize ontvang het, het Maandag aangevoer dat hy die Riemann-hipotese opgelos het. Dit is een van sewe wiskundige probleme (“Millennium Prizes”) waarvoor jy $1 miljoen (ongeveer R14,2 miljoen) van die Clay Mathematics Institute kan ontvang as jy dit oplos.

Atiyah se oplossing sal nou deur eweknieë bestudeer en nagegaan word voor die prys uitgeloof word. Hy het Maandag ʼn lesing by die Heidelberg Laureate Forum in Duitsland gehou om sy werk voor te lê.

Om die hipotese op te los, moet jy ʼn manier vind om priemgetalle (wat slegs deur hulself en deur een gedeel kan word) se teenwoordigheid te voorspel, alhoewel priemgetalle in die verlede nog altyd as lukraak beskou is. Bernhard Riemann het die hipotese vir die eerste keer in 1859 voorgehou.

Die wiskundige Keith Devlin het in 1998 geskryf: “Vra vir enige professionele wiskundige wat die belangrikste probleem is, en jy sal waarskynlik die ‘Riemann-hipotese’ as antwoord kry.”

Atiyah het ook as president van die London Mathematical Society, die Royal Society, en die Royal Society of Edinburgh gedien. Hy word beskou as een van die beste wiskundiges wat nog leef. As sy oplossing goedgekeur word, sal dit een van die grootste prestasies in dekades in wiskunde wees.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

GELUK ·

Hoop hy het die regte formule. Dink net watter plesier dit vir hom sal wees, en om van die bonus dollars nie eers te praat nie.

Tania Heyns ·

Dagsê Arak

Dankie vir jou kommentaar. Ons vra om verskoning vir die oorsig, die berig is reeds gewysig.

Groetnis
Tania nms Maroela Media

Anoniem ·

Wel. Ek kon NA 160 jaar nog GEEN wiskunde probleem oplos nie!

HAAS ·

Ek het in Sub-A (1977) al my wiskunde probleme opgelos. Die probleem en antwoord was dieselfde: WISKUNDE

Johan ·

Baie geluk aan die man. Na 160 jaar se gesukkel en al die boehaai in die wiskundig en wetenskaplike kringe hieroor, kan ons hopenlik – nou dat ons deur die oplossing van die hipotese die teenwoordigheid van priemgetalle kan voorspel – hongersnood, armoede en werkloosheid hok slaan.

Priemgetal ·

Neewat, die dag as ek 89 is, gaan ek my definitief nie meer frustreer met wiskundeprobleme nie……en moenie worry nie, ek is op die punt om ‘n wêrelddeurbraak te maak om die antwoord vir 2+2 te kraak, en dit op ouderdom 56!

Marthinus Willemse ·

As my bloedsuiker val, kan ek geen moeilike wiskundige probleem oplos nie.
Byvoorbeeld, as iemand sou vra, “Hoeveel is een plus een?”
My antwoord, “Wat is ‘een’?”, “Wat beteken ‘plus’?”, “Hoekom wil jy een en een bymekaartel?”

Staak saam ·

Vir 160 kon niemand die probleem oplos nie want Zuma het die vraag voorgelees.

En nou? ·

As ek na sy berekeninge kyk dan kan ek sien daar is n paar probleme!

Trots Afrikaans ·

Ramaposa sal jou onmiddelik vertel dat in RSA daar nie ‘n wiskunde probleem is nie…

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.