Wittebrood-aandenking: ʼn hele hotel!

Gina Lyons en Mark Lee (Foto: Facebook)

Meeste mense het al impulsiewe besluite gemaak en op die ingewing van die oomblik iets gekoop, maar dié egpaar span die kroon.

Mark Lee (35) en Gina Lyons (33) van Londen het een aand tydens hul wittebrood soveel rum gedrink dat hulle ʼn hele hotel in Sri Lanka gekoop het.

Die twee het in Desember 2017 vir drie weke lank met rugsakke deur die land gaan toer. Op die eerste aand het hulle vriende gemaak met personeellede in Tangalle. Ná 12 glase rum het hulle gehoor die huurkontrak van die hotel verstryk binnekort. Hulle het ingestem om dit vir drie jaar oor te neem, teen ʼn koste van £30 000 (ongeveer R570 000).

“Toe ek besef dis [R191 000] per jaar, het ek en Mark gedink dis ʼn blink plan om dit te koop, omdat ons so dronk was,” het Lyons aan die Daily Mirror gesê.

Volgens die egpaar was hulle ook nie nugter vir die res van die gesprek oor die besonderhede van die koopkontrak nie, en dit het ook in ʼn ander taal plaasgevind, so hulle moes vriende inroep om vir hulle te vertaal. “Omdat ons meeste van die gesprek nie verstaan het nie, het ek en Mark maar net nog rum gedrink en weer dronk geword.”

Lucky Beach Tangalle (Foto: Facebook)

Ná beraadslaging het hulle uiteindelik ingestem om die £30 000 vir die driejaarhuurkontrak te betaal: £15 000 in die eerste jaar en die ander helfte teen Maart 2019.

Die egpaar het egter paniekerig geword oor die groot finansiële uitgawe toe hulle uitvind hulle verwag ʼn kind. “Ons vriende en familie dink ons is idiote en ons moes dit nooit gedoen het nie. Ons skuld nog baie geld vir die troue en bly net in ʼn klein woonstel en nou is ʼn baba op pad! Ek het gevoel ek is al reeds ʼn slegte ma, omdat ek skuldig gevoel het dat ons soveel geld gemors het op ʼn onderneming wat dalk nie kan werk nie. Ek het deurlopend onverantwoordelik gevoel, maar dit was sink of swem – en ons het besluit om dit te laat werk!”

Die egpaar het die seweslaapkamer-gastehuis, “Lucky Beach Tangalle” aan die einde van Julie oopgemaak ná opknappingswerk van ongeveer £6 000. Sake verloop egter vlot by die gastehuis en hulle het gereeld nuwe gaste.

Hulle hou vol hulle sal hul volgende groot besluit net maak as hulle sober is.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

ChrisE ·

Oulike storie. Ek en Captain Morgan het in my lewe ook al groot besluite saam gemaak. Gelukkig het ek die beste daarvan afgekom. Miskien my reputasie maar andersins ongeskonde.

Dop die toets ·

Ja,hoop net nie dit was ‘n wittebrood(RUM) baba nie.

Susan de Winnaar ·

Nou hoe dom wil jynou wees. Dan kry drank ook nog di skuld. Ag ja iets of iemand moet di skuld kry

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.