‘Wizard of Oz’-dief uiteindelik aangekeer

Die rooi skoene wat aktrise Judy Garland as Dorothy in die fliek “The Wizard of Oz” gedra het op uitstalling by die Smithsonian-museum van Amerikaanse Geskiedenis in Washington, DC. (11 April 2012) (Foto: Karen Bleier/AFP)

Twintig jaar ná die diefstal van ʼn paar rooi skoene, wat Judy Garland in die fliek The Wizard of Oz gedra het, is ʼn 76-jarige man van die VSA uiteindelik aangekla.

Die skoene is met blinkertjies versier en word met die karakter Dorothy verbind in die toneel waar sy die skoene se hakke drie keer teen mekaar stamp en herhaaldelik sê “there’s no place like home”.

Dit is in 2005 uit die Judy Garland-museum gesteel in die aktrise se tuisdorp Grand Rapids, Minnesota. ʼn Glaskas met die skoene is in die middel van die nag stukkend geslaan om die skoene te steel.

Die FBI het in 2018 tydens ʼn klopjag op die skoene afgekom, maar geen klagtes is in dié stadium aanhangig gemaak nie. ʼn Beloning van $1 miljoen is tevergeefs uitgereik vir inligting wat tot die inhegtenisneming kan lei van die skuldige.

Die Amerikaanse departement van justisie in Noord-Dakota het nou egter onthul Terry Martin staan tereg op ʼn aanklag van die diefstal van ʼn kunswerk.

Die aankondiging het nie enige besonderhede bevat oor Martin nie en geen inligting is onthul hoe hy as ʼn verdagte geïdentifiseer is nie.

Die Minneapolis Star-Tribune-koerant het gesê Martin is 76 jaar oud en woon sowat 20 km van die Garland-museum.

Martin het in ʼn gesprek met die koerant net gesê hy “moet hof toe gaan. Ek wil nie met julle praat nie.”

Die skoene is een van vier pare wat Garland tydens die vervaardiging van die 1939-fliek gedra het.

Die departement van justisie het gesê dit word “wyd beskou as een van die mees herkenbare memorabilia in die Amerikaanse filmbedryf”.

Toe die diefstal plaasgevind het, was die skoene vir $1 miljoen verseker, maar die huidige waarde beloop sowat $3,5 miljoen (byna R67,5 miljoen).

Toe die skoene in 2018 gevind is, is dit deur die Smithsonian-Instituut se Nasionale Museum vir Amerikaanse Geskiedenis bekragtig as die ware jakob. Dié museum beskik oor nog een van die vier egte pare.

Ná die diefstal het die polisie in Grand Rapids verskeie wenke ontvang, het polisiehoof Scott Johnson in 2018 gesê. Een persoon het beweer die skoene wat Dorothy op die geel geplaveide pad gedra het, hang aan ʼn muur in ʼn restaurant. Iemand anders het volgehou dit is in ʼn ysterertsput gegooi.

“Dit is meer as net ʼn paar skoene,” het Johnson in daardie stadium gesê. “Dit is ʼn ewigdurende simbool van die mag van geloof.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.