Woef! Is jy ʼn wolf?

Skermgreep uit die video

In ʼn bisarre voorval het ʼn dieretuin in China gepoog om ʼn hond as ʼn wolf voor te hou.

ʼn Video word intussen wyd op sosiale media gedeel waar ʼn besoeker na die hok toe stap, gemerk as “Wolf” en verras op die dier in die hok reageer toe hy sien dit is ʼn hond.

Volgens die  BBC is die video by die Xiangwushan-dieretuin in Xianning, Hubei, geneem.

In die kort video stap die man na die hok en sien ʼn hond, vermoedelik ʼn rottweiler, in die hok. “Woef! Is jy ʼn wolf?” sê die man in die video.

Die video is wyd versprei op Chinese sosialemediaplatforms en het honderde kommentare uitgelok. Verskeie gebruikers het hul kommer uitgespreek oor instandhouding by die dieretuin en ʼn werknemer het gesê die dieretuin sukkel om kop bo water te hou te midde van die Covid-19-pandemie.

Die dieretuin-werknemer het gesê daar was ʼn wolf in die hok, maar hy is weens ʼn hoë ouderdom oorlede. Die hond word nou tydelik in die hok gehou, aldus plaaslike berigte.

Toegang by die dieretuin beloop 15 yuan (sowat R35) maar weens die wêreldwye pandemie het die dieretuin nie genoeg besoekers gehad nie.

Dit is nie die eerste keer dat ʼn dieretuin in China mense probeer bluf het nie. In 2013 het ʼn dieretuin ʼn Tibettaanse mastiff as ʼn Afrika-leeu voorgehou en in 2017 het die Guishan-dieretuin in Yulin City ʼn spesiale “pikkewyn-uitstalling” bemark. Besoekers was egter baie teleurgesteld toe daar net plastiek opblaas-pikkewyne op hulle gewag het.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Monique ·

Die Dieretuin lyk maar baie vervalle! G’n wonder die Wolf het verander in ‘n Hond nie.

Menan ·

Ek lag myself half simpel oor daai plastiek pikkewyne!!! Dis vrek snaaks!!!

modiglianigirl ·

Dit is kommerwekkend. In watter toestand leef die diere in hierdie wrede aanhouding? Kortpaadjies neem is duidelik aan die orde van die dag.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.