Ysland se groentebier ʼn Kersfees-treffer

Bierbrouer Valgeir Valgeirsson (regs) en ʼn werknemer genier “Ora jolabjor” by die RVK-brouery in Reykjavik (Foto: Halldor Kolbeins/AFP)

ʼn Kersfeesbier wat van groen ertjies en gemarineerde rooi kool gemaak word, is ʼn feestelike treffer in Ysland. Dit is binne ure opgeraap.

Die resep vir “Ora Jolabjor” (Ora-Kersfeesbier), wat deur ʼn klein brouery in Reykjavik gemaak word, put sy inspirasie uit Ysland se Kersfees-etes. Die land se feesmaal bestaan gewoonlik uit ertjies en rooi kool saam met lamsboud en gekaramelliseerde aartappels.

Die nuwe bier, met ʼn alkoholinhoud van 5,2%, is die breinkind van Valgeir Valgeirsson, ʼn meesterbrouer by RVK-brouery. Hy het die afgelope paar jaar naam gemaak deur gewilde Kersfeesbiere te ontwikkel wat van alge, Kersfeesboomstompe en selfs gedroogde vis gemaak word.

Die visbier “was vreemd”, erken die 41-jarige Valgeirsson.

Vanjaar word die ertjies en kool gemeng met mout, hop en naeltjies.

ʼn Blikkie “Ora jolabjor” (Ora-Kersfeesbier) (Foto: Halldor Kolbeins/AFP)

Sy brouery het ʼn jaarlikse kapasiteit van slegs 50 000 liter – ʼn druppel in die oseaan in vergelyking met internasionale bierkonglomerate. Hy het 6 000 liter van sy jongste konkoksie gemaak en dit is aanlyn deur Ysland se staatsbeheerde Vinbudin verkoop. Die eerste 6 000 blikkies het binne ure uitverkoop en is vervang met nog 18 000 blikkies.

Ysland het ʼn bevolking van sowat 370 000 mense.

Valgeirsson sê hy het ses maande gelede met die idee vorendag gekom toe iemand voorgestel het dat hy hande vat met Ora, Ysland se grootste voedselvervaardiger, om ʼn Kersfeesbier te brou. “Ek was juis op soek na só tipe uitdaging,” het hy aan AFP gesê.

Die bierblikkie herinner mens aan Ora se verpakking vir sy blikkie-ertjies en rooi kool. Dit klink dalk nie aptytwekkend vir ʼn drankie nie, maar die kombinasie van ertjies en kool is baie simbolies vir Yslanders. Die tradisie van dié twee bykosse by Kersfees-etes dateer terug na die dae toe mens nie maklik vars produkte in die winter kon kry nie.

Sy ongewone kombinasie het groot belangstelling gelok.

“Ek was verbaas oor hoe lekker dit eintlik is,” sê Hedinn Unnsteinsson, ʼn 51-jarige raadgewer vir die regering. Hy erken die bier het wel ʼn kenmerkende reuk.

Niels Bjarki Finsen vergelyk dit met ʼn Engelse bitterbier en sê hy het verwag die groentesmaak sou meer kenmerkend wees.

Thorsteinn Tomas Broddason, wat in die finansiesbedryf werk, het geskerts hy sien uit na nog vreemde kombinasies. “Volgende jaar het ons dalk bier van vislewerolie!”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Kirst ·

Die werknemer in die agtergrond op die eerste foto lyk nie baie beindruk nie. Ek het my eie bier begin brou toe my bier opgeraak het tydens die eerste inperking verlede jaar. Dis harde werk maar ‘n baie lekker stokperdjie en ek maak nou heerlike bier wat boonop goedkoper as winkelbier is (en die ANC kry nie aksyns uit my bier nie).

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.