Blinde seun se studiedroom bewaarheid danksy groot skenking

Rohan Crafford (Foto: Verskaf)

Rohan Crafford (18), ʼn skolier by Prinshof Skool in Pretoria, is gebore met siggestremdheid.

Hy kan lig en donker uitmaak en het kleurpersepsie, maar verder is hy as’t ware blind. Ten spyte van sy moeilike omstandighede is Crafford positief, selfversekerd en gereed om in die nuwe jaar universiteit by te woon.

Crafford beplan om volgende jaar BA Taal en Kultuur by die Universiteit van Pretoria te studeer. ʼn Opdraande stryd het egter op hom gewag as gevolg van sy gestremdheid, aangesien hy nie soos ander studente sal kan toets skryf, notas tydens lesings neem of ʼn gewone rekenaar kan gebruik nie.

ʼn Onverwagte skenking het egter dié groot klip vir Crafford uit die pad gerol en hom in staat gestel om tot die beste van sy vermoë op universiteit te presteer.

Crafford sê sy pa het terloops aan ʼn kollega genoem dat hy blind is en hom van sy situasie vertel. Die vriend het toe Crafford se saak aan die Lions‑klub in Pretoria-Suid gestel en hulle het besluit om vir hom geld in te samel sodat hy die nodige toerusting kan koop wat hy nodig het vir die studentejare wat vir hom voorlê.

“Ek benodig ʼn rekenaar wat met die regte sagteware toegerus is. Die sagteware bevat ʼn program wat die inhoud van ʼn rekenaar vir jou teruglees. Dan moet ek ook ʼn orbit reader kry. Dit is ʼn klein toestel wat teks in braille kan omskep, en wat ook braille na teks kan verwerk. Dit is baie belangrik vir dinge soos toetse en om boeke te lees,” het hy verduidelik.

“Ek kan nie op universiteit rond reis met ʼn braille-masjien vir notas tydens lesings nie. Dit is baie swaar en dit raas vreeslik, so die orbit reader sal baie handig wees.”

Crafford het gesê hy is baie opgewonde oor die nuwe hoofstuk in sy lewe, en dat hy hoop dit meer uitdagend as skool sal wees. “Ek weet my matriekuitslae sal goed wees. En ek is baie opgewonde oor universiteit, ek sien uit na die stimulasie. Skool was nie uitdagend genoeg vir my nie,” sê hy.

Rohan Crafford (Foto: Verskaf)

Oor sy liefde vir tale sê hy dit is iets wat al van kleins af by hom gekweek is. “Ek het ʼn inherente liefde vir tale. Ek is al van vroeg af aan taal blootgestel omdat my ma ʼn amateurdigter is. Sy is ook ʼn taalonderwyseres. Ek dink dit is belangrik om taal te bestudeer sodat jy met mense in hulle eie taal kan praat, en om sodoende menseverhoudinge en die samelewing te verbeter.”

Behalwe dat Crafford ʼn slimkop in skoolwerk is, was hy ook vanjaar hoof van dissipline van sy skool, is hy besig om ʼn boek te skryf en speel hy graag klavier en blokfluit.

Hy sê hy handhaaf ʼn positiewe uitkyk op die lewe omdat hy nie sy gestremdheid as negatief sien nie. “Ek sien nie my blindheid as ʼn gestremdheid nie – dit is my sleutelfilosofie. Dit is bloot ʼn interessante mutasie van die menslike kondisie. Dis nie ʼn tekortkoming nie, maar eerder net ʼn verandering van wat ander mense het. Ek is bewus van my beperkings, maar ek kan steeds voluit leef binne my perke,” sê hy.

“Jy kan nie jouself bejammer nie. Mens moet net alles doen wat jy kan om te bereik wat jy wil bereik.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Opgeruimde Jongman ·

Was nou lekker om Rohan se storie te lees…soveel optimisme – Hou so aan met positiewe uitstraling jy stel ‘n goeie voorbeeld vir ander dis ‘n pragtige eienskap. Jy verdien voorwaar die hulp en dankie vir die mense wat die familie ondersteun het.

Liefde is blind ·

Ongelukkig gebeur dit selfs onder blindes dat hulle mekaar boelie of kritiseer wanneer hy of sy n talent het of iets wil bereik. Hooplik leer kinders n positiewe les daaruit voordat hulle n volwasse lewe betree.

Colin ·

Blinde kinders is net soveel mens soos kinders wat nie blind is nie. Die rede hoekom ons mekaar boelie kan in Genesis 3 en Romeine 1:18-32 gevind word. Ons sonde maak dit duidelik hoekom die mensdom Jesus Christus nodig het, want sonder Hom is ons almal verlore en oppad hel toe.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.